Die subunies van Noord- en Suid-Kwazulu-Natal het Saterdag hul wedstryde in die eerste ronde van die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Ebbo Bastard-reeks gewen.
Die Noorde het op Vryheid ʼn baie goeie oorwinning van 53-18 (nege drieë) oor Zoeloeland behaal; en die Suide het die Durbanse Subunie met 33-10 opgedreun.
André Swanepoel, Noord-Natal se afrigter, laat weet sy span was rustyd 22-13 voor, maar kon verder voorgeloop het as dit nie vir ʼn paar hanteerfoute was nie.
Ná rustyd het die wenspan nog vyf drieë gaan druk. Swak skopwerk het veroorsaak dat hy in die loop van die wedstryd vyf doelskoppe en twee strafdoele verbrou het.
Swanepoel sê die voorspelers het in die vaste fasette hard gewerk en goeie, skoon balle aan die agterlyn voorsien om ses uit die span se nege drieë te druk.
“Agterlangs het die senterpaar, Gift Mabaso en Senzo Mbali, goed gekombineer, en Wandile Nkosi (heelagter) het baie mooi aansluiting by sy agterlyn gevind.
“Juan Els (losskakel) het ʼn bestendige wedstryd gehad en met sy goeie balverspreiding beïndruk.
“In die voorhoede het Danie Vermaak (agsteman) die bal sterk gedra, en Henk Booysen (bankflank) het impak gemaak toe hy kans gekry het. Hy het twee drieë gedruk.
“Die kaptein, Nico-Jan Chowles (slot), het uitstekend in die lynstane gevaar en baie goeie spel gelewer.”
Booysen (twee), Mbali (twee), Mabaso, Els, Sticks Mbatha (linkervleuel), Mthoko Nkwayana (haker) en Nkosi het Noord-Natal se drieë gedruk. Nkosi het ook met vier doelskoppe geslaag om sy bydrae op 13 te staan te bring.