Noord-KZN: aartsvyande dreun mekaar op

Die aartsvyande Vryheid en Piet Retief het mekaar Saterdag deeglik opgedreun in hul kragmeting in die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie se liga op Cecil Emmettpark, Vryheid.

Hul vorige kragmeting was verlede jaar in die eindstryd van die liga, toe Vryheid met die louere weggestap het.

Saterdag het Vryheid met 26-17 gewen nadat die rustydtelling 10-10 was. Piet Retief se tweede span het met 27-20 gewen (rustyd 14-10).

Rich Verster, Vryheid se hoofafrigter, laat weet die besoekers, met hul gebruiklike swaar agttal en vaardige agterlyn, was eerste om die doellyn in die sewende minuut oor te steek.

“Vryheid het alles in die stryd gewerp en met ʼn drie deur Lwazi Ndluli (haker) teruggeslaan. Die span het egter met oorgretigheid en ongeduld in Piet Retief se hand gespeel deur tien strafskoppe af te staan, en ʼn geel kaart ná ʼn hoogvat op die lyf te loop.

“Francois Lindeque (linkervleuel) het kort voor rustyd ʼn goeie stukkie fasespel met ʼn drie in die hoek afgerond,” berig Verster.

Hy moes rustyd hard met die manne praat, maar dit het vrug gedra. Die agterlyn het in die tweede helfte rustig geraak. Die voorspelers het hard gewerk en in die losskrums geswoeg tot ʼn drie deur die vaskopstut Jurie Huyser gevolg het.

Verster sê Vryheid het hierna die oorhand begin kry.

“Die agsteman Francois Scheepers, wat deurentyd aan die voorpunt was, het met twee strafdoele – een van 55 meter – geslaag, en ʼn goed uitgewerkte drie gedruk om Piet Retief se wenkans die nekslag toe te dien. Dit het Scheepers se bydrae vir die wedstryd op 11 te staan gebring.”

Hy sê hoewel Piet Retief sy tweede span met verskeie studente versterk het, het hy Vryheid ʼn harde neut gevind om te kraak.

“Die besoekers het die telbord met ʼn drie van die heel eerste beweging af aan die rol gesit, maar Vryheid het teruggeveg en drie drieë teen Piet Retief se vier gedruk.

“Vryheid het ʼn kans gehad om die telling gelyk te maak ná Piet Retief se laaste drie in die 78ste minuut. Hy het vyf minue lank in die besoekers se 22-m-gebied geboer, maar die gelykmaker het hom ontwyk.”

Gielie Meiring, Kobie Maree en Johannes Kruger het Vryheid II se drieë gedruk. Mxolise Nkosi het een verdoel en met ʼn strafdoel geslaag.

In weerwil van die neerlaag is die afrigters Jono Beghin en Edwill Meiring in hul skik met hul span se vertoning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.