Noord-KZN-liga: wrede gasheer verniel Volksrust

ʼn Genadelose gasheer, die dusver onoorwonne Vryheid, het Saterdag Volksrust in albei kragmetings in die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie se Eerste en Tweede Liga verniel.

Vryheid se eerste span het met 85-12 gewen, en die tweede met 99-0.

Rich Verster, die wenspan se hoofafrigter, se die eerste span was effens verroes ná twee wedstrydlose weke en die wedstryd het nogal frustrerend begin.

“Die Maroenspan het binne die eerste nege minute vyf ongedwonge foute begaan. Oorgretigheid was die grootste sondaar wat die wedstryd se 17 ongedwonge foute betref.”

Verster sê Sticks Mbatha het sy uitsonderlike vaart benut om vier drieë te druk, en is as die agterspeler van die wedstryd aangewys.

“Francois Webb, `n bourekenaar van beroep, het van voor af gelei; Vryheid se lynstane beheer, en om Volksrust s’n meegeding. Hy was die voorspeler van die wedstryd.

“Die agterlyn het 12 van Vryheid se 13 drieë gedruk. Die stut Jurie Huyser is die enigste voorspeler wat die doellyn oorgesteek het.”

Verster se Vryheid het puik struktuurrugby gespeel, 100% van sy lynstane en skrums gewen, en `n stewige platform vir die agterlyn geskep om na hartelus te hardloop en agter die pale te kuier.

“Vryheid se hanteerwerk en uitgee voor kontak maak hom ʼn opwindende span om dop te hou.”

Seisoen se beste

Naas Mbatha en Huyser het Juan Booyens, Morné Ellis (twee), Francois Lindeque, Carel Hotzhausen, Chris van Rooyen (twee) en Armandt Holtzhausen die wenspan se drieë gedruk.

Francois Scheepers het sewe uit agt en Booyens drie uit vyf verdoel.

♦ Verster sê Vryheid II het sy beste vertoning van die seisoen gelewer.

Kobie Maree het na `n paar jaar van uittrede n uitmuntende terugkeer beleef, en is as die voorspeler van die wedstryd aangewys.

Die klereontwerper Monwabisi Mtshali het vir ʼn driekuns gesorg.

Die wenspan het 15 drieë gedruk, waarvan Devon Aspden 12 verdoel het vir ʼn bydrae van 24 punte.

Vryheid se volgende kragmeting is teen sy vernaamste uitdager, Sentraal van Dundee.

Opgesomde punteleer –

Eerste Liga

Vryheid 15, Sentraal 10, Piet Retief 9, Volksrust 5, Mighty Buffaloes (Newcastle) 0.

Tweede Liga

Piet Retief 14, Vryheid 11, Ladysmith Wolves 6, Volksrust 5, Sentraal 4.

Derde Liga

Newcastle Highlanders 15, Bergville Zebras 5, Flying Eagles (Dannhauser) 4, Mighty Buffaloes II 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.