Noord-KZN: Vryheid, Piet Retief in rillerstyd

Dit het ʼn rillerstryd soos min opgelewer toe Vryheid en Piet Retief Saterdag aanmekaar gespring het om die tweede ronde van die Noord-KwaZulu-Natalse Subunie (NKZNRSU) se Eerste Liga af te skop.

Vryheid het die eersterondebotsing met 26-17 gewen en was vyf punte voor op die punteleer.

Hy het ook die weeromwedstryd gewen, maar dié keer met ʼn enkele punt – 25-24 – op ʼn vol gepakte Piet Retief-sportterrein.

Rich Verster, Vryheid se afrigter, laat weet dit was ʼn taai stryd voorlangs, met geeneen van die agttalle wat ʼn sentimeter bes wou gee nie.

“Piet Retief het die eerste 20 min in Vryheid se helfte deurgebring. Hy het onverbiddelik druk toegepas en met Vryheid op die agtervoet, in die vyfde en 13de minuut punte aangeteken.

“Devon Aspden het in die 23ste minuut vir Vryheid gaan druk toe die geleentheid met goeie spel deur die agterlyn bewerkstellig is.”

Verster sê die twee spanne het ʼn stryd om gebiedsvoordeel gevoer deur die meeste van hul besit weg te skop.

Verwoed aangeval

“In die laaste 20 min van die eerste helfte het Vryheid se agterste driehoek verwoed aangeval, terwyl Piet Retief aangehou skop het.

“Francois Scheepers en Sticks Mbatha het albei langafstanddrieë in die hoek gedruk om Vryheid rustyd met 20-12 te laat voorloop.

“Die tweede helfte het deur en deur aan Piet Retief behoort, en Vryheid het groot durf aan die dag gelê om die aanslag af te slaan.

“Die tuisspan het twee welverdiende drieë gedruk deur tree vir tree doellyn toe te swoeg, en twee minute voor die einde was hy met 24-20 voor.”

Dramatiese einde

ʼn Verbeeldingryke draaiboekskrywer kon nouliks ʼn spannender en meer dramatiese einde voorsien.

Verster vertel:

“Vryheid het ʼn kans gekry om punte aan te teken met ʼn goed uitgevoerde beweging in Piet Retief se 22-m-gebied, maar die bal kort duskant die doellyn laat val.

“Die skeidsregter, Pieter Aucamp, het aangedui dat die skrum die laaste beweging van die wedstryd inlui.

“Piet Retief se bal …

“Met die ingooi skiet die bal aan Vryheid se kant uit, te danke aan volmaakte tydsberekening deur die span se haker, Mmeli Dlamini.

Briljant

“Die skumskakel Chris van Rooyen het met ʼn briljante solopoging in die hoek gaan druk om die telling 25-24 in Vryheid se guns te maak.”

Scheepers het die wenspan se ander punte met ʼn strafdoel en ʼn doelskop behaal, vir ʼn persoonlike bydrae van tien.

Dlamini, wat sy buiging vir Vryheid gemaak het, was die voorspeler van die wedstryd, en Aspden die beste in die agterlyn.

Verster sê dit was ʼn “besonderse ervaring en iets waarna elke afrigter streef: ʼn span wat wanneer die vet in die vuur is, met byna geen sprankie van hoop nie, die stang vasbyt, die storm verduur, en veg.

“Dié sege in die laaste minuut toon hoe rugby die mens se ware karakter na vore bring.

“Hoede af vir Piet Retief.”

Opgesomde punteleer –

Eerste Liga

Vryheid 25, Sentraal (Dundee) 15, Piet Retief 11, Volksrust 5, Mighty Buffaloes (Newcastle) 0.

Tweede liga

Piet Retief 24, Vryheid 18, Sentraal 9, Ladysmith Wolves 5, Volksrust 5.

Derde Liga

Newcastle Highlanders 15, Flying Eagles (Howick) 9, Bergville Zebras 9, Buffaloes II -1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.