Noord-Transvaalse rugbylegende oorlede

Skippie Scheepers (links) as voorsitter van Oostelike saam met Blikkies die Klerk (kaptein) en Louis Schmidt (afrigter), albei ook reeds oorlede, op ʼn spanfoto uit die jare sewentig.

ʼn Deurwinterde rugbyadministrateur en ’n legende in Noord-Transvaalse (nou Blou Bulle-) rugby is in Pretoria oorlede.

Skippie Scheepers het nooit provinsiale rugby gespeel nie, maar het hom onderskei as een van die bekwaamste rugby-administrateurs in die hoofstad.

Hy was onder meer aan die eertydse Oostelike Rugbyklub (die Uile) en Tukkies verbonde voordat hy waardevolle werk as assistent-bestuurder van die destydse Noord-Transvaalse Rugbyunie (NTRU) verrig het.

Hy was van 1960 tot 1968 sekretaris van die Uile, in 1969 die ondervoorsitter en het die klub van 1970 tot 1975 as voorsitter gedien. Hy is in 1975 tot een van die vyf lewenslede van die klub verkies.

Mac van Vuuren, ’n kollega by die Uile en later bestuurder van die NTRU,  beskou Scheepers as seker die beste werwer van spelers wat enige klub ooit gehad het.

As wedstrydsekretaris van Oostelike het hy gesorg dat elke span vol is. “Punte gee” het nie in sy woordeskat bestaan nie – en hy was op ʼn tydstip daarvoor verantwoordelik om Saterdag ná Saterdag elf spanne op die veld te kry.

In die dae voor skeidsregters as lynregters by klubrugby opgetree het, was Skippie die man wat vir die Uile die vlag gevat het.

In dié rol is hy jare lank deur die klub Silverton verkwalik dat hy hom van die Carltonbeker beroof het toe hy aangedui het dat ʼn Silvertonse speler op pad doellyn toe uitgetrap het. Wat waarskynlik die wendrie sou wees, is nie toegeken nie.

Gevra daaroor, het Scheepers daarop gewys dat die vermaarde toetsskeidsregter Bertie Strassheim die wedstryd hanteer het, en hom (Scheepers) gelyk gegee het.

Hy het Noord-Transvaal in sy Uile-jare onder meer as voorsitter van die bepalingskomitee, as lid van die onthaalkomitee en as junior keurder gedien.

Vier lede van die NT o.20-span wat hy in 1971 help kies het, het Suid-Afrika later verteenwoordig: Chris Pope (vleuel), Louis Moolman en Moaner van Heerden (slotte) en Wynand Claassen (agsteman en Springbokkaptein in 1981).

Nadat Scheepers by die Uile weg is, het Tukkies hom opgeraap, en het hy ʼn leidende rol gespeel in die vestiging van die Fezelas, die klub se naasbestes, as Carltonbekerspan.

♦ Sy begrafnisdiens is 10:00 Woensdag 28 Maart in die NG Kerk Queenswood, Garretlaan 249, Queenswood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

cb ·

RIP vir familie julle is in ons gebede. Swaar om Pa te verloor. Geloof Hoop en Liefde, sal julle vorentoe kan laat gaan. STERKTE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.