Northampton was dié keer g’n engeltjies

George North (Foto bbc.co.uk)

George North (Foto bbc.co.uk)

Die welvaart van enige rugbyspeler, op watter vlak ook al, behoort die hoeksteen van enige span te wees.

Al is jou naam nou ook  Piet Pompies, Pat Lambie of George North.

North, die spogvleuel van Wallis en die Northampton Saints, is  Saterdagaand in die Engelse Premierliga op die oog af ernstig beseer toe sy voete onder hom uitgehaal is deur Adam Thompstone van Leicester toe hulle om die bal meegeding het – byna net soos vroeër vanjaar toe die Ierse flank CJ Stander die Boklosskakel Lambie se voete onder hom uitgehaal het in die eerste toets tussen Ierland en Suid-Afrika.

Die groot verskil is dat North, wat ook op sy nek te lande gekom het en sy bewussyn verloor het, ná ses minute toegelaat is om voort te speel. Lambie was maande lank langs die kantlyn  en daar is geen kans met hom gewaag nie. Heeltemal korrek.

Northampton se mediese personeel het glo nie toegang tot televisiebeeldmateriaal gehad nie en die klub het ná die wedstryd volgehou dat North nie sy bewussyn verloor het nie. Hy is medies ondersoek en sy spraak was nie aangetas nie.

Ai, ai, ai!

North, wat reeds sedert 2014 ʼn geskiedenis van harsingskudding het, is in 2015 só deur hoofpyne gepla dat hy nie eens skottelgoed kon was nie. Dr. Barry O’Driscoll, een van Wêreldrugby se mediese raadgewers, het juis in 2005 gesê dat North se loopbaan tot ʼn einde kan kom as hy weer harsingskudding sou opdoen.

Gelukkig het Wêreldrugby nou ingegryp en North sal nie toegelaat word om weer te speel alvorens hy behoorlik ondersoek is en daar aan al die protokolle voldoen is nie.

♦  Dit het my laat terugdink aan die ou Loftus, toe die Carltonbeker-kragmetings tussen Tukkies en Polisie die paviljoene volgepak het.

Oelof was de Meyer was Tukkies se heelagter in dié belangrike stryd. Hy was lank, seningrig en rateltaai, maar sy voete is ook onder hom uitgehaal toe hy vir die bal gespring het.

Loftus se skare het yskoud en stil  geword daar waar ‘Plastics’, soos De Meyer bekend gestaan het, bewusteloos gelê het.

Onthou, dit was nog in die dae toe die SA Noodhulpliga – hulle was gewapen met ʼn waterbottel en ys – mediese behandeling toegedien het. Ek kan nie onthou of De Meyer voortgespeel het nie. Wat ek wel weet, is dat hy die volgende Saterdag weer hoog vir die bal gespring het.

♦  Dis uiters kommerwekkend dat ʼn studie wat in 2015 gedoen is, getoon het dat tussen 10 en 15% van alle skoolkinders harsingskudding in ʼn seisoen sal opdoen en dat 50% van alle spelers harsingskudding in hul loopbane sal opdoen.

Hopelik sal lesse uit die George North-voorval geleer word en sal daar opgetree word teen Northampton as daar bevind word dat hulle verkeerd opgetree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.