Nou bly daar net herinneringe van Nuweland oor

Nuweland-stadion (Argieffoto) Foto: whatsonincapetown

Wanneer die Covid-19-pandemie hopelik oor ʼn paar weke wyk, sal die gordyn dalk ook getrek word oor Nuweland, een van die ikoniese rugbystadions in Suid-Afrika.

Die Springbokke is veronderstel om op 4 Julie op Nuweland teen Skotland te speel om die laaste hoofstuk te skryf, maar die kanse dat dit sal gebeur, raak al hoe skraler.

Dalk kan die toets tot later in die jaar verskuif word, maar dit sal beteken dat die Rugbykampioenskap in die gedrang sal wees.

Die Westelike Provinsie Rugbyunie het Nuweland in 1888 aangeskaf en die eerste wedstryd is op 31 Mei 1890 tussen Stellenbosch en Villagers voor sowat 2 400 toeskouers gespeel.

Die eerste Nuweland-toets het in 1891 plaasgevind toe die Britse toerspan die derde toets teen Suid-Afrika met 4-0 gewen het.

Die skeidsregter was Herbert Castens, die eerste nasionale rugbykaptein, wat toevallig een van die voorspelers was wat in 1891 in die eerste toets op St. George-park in Port Elizabeth gespeel het. Die Britse toerspan het dié toets ook met 4-0 gewen.

Daar was altesame 55 toetse op Nuweland, met die laaste op 23 Junie 2018, toe Engeland die Bokke met 25-10 geklop het.

Nuweland het deur die jare ʼn metamorfose ondergaan, nuwe pawiljoene is gebou en ander afgebreek, maar die vernuwingskuur wat die ander stadions soos Loftus Versfeld, Ellispark en die Vrystaat-stadion in 2010 gered het toe ʼn groot opknappingskuur vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi ondergaan is, was Nuweland nie beskore nie, want die nuwe, moderne Kaapstad-stadion in Groenpunt het sy plek ingeneem.

Die afgematte Nuweland se dae het al hoe meer getel geraak, want dit sou miljoene kos om tred te probeer hou, om die stadion aan te hou op te gradeer.

Van die belangrikste toetse wat in die geheue vassteek, was die derde toets in 1955 teen die Britse Leeus toe Karel (Tom) van Vollenhoven drie drieë teen Britse Leeus gedruk het.

Daar is ʼn trefferfoto/skets van een van sy drieë, wat jare daarna teen die kamermure van duisende jong Suid-Afrikaners opgeplak was.

In 1970 sal die baklei-moddertoets toets teen die All Blacks ook altyd onthou word, veral toe Syd Nomis se uitgeslane voortande gesoek is nadat hy deur die vuiluil-heelagter Fergie McCormick met ʼn stywe am bygedam is.

In 1992 was daar ʼn groot tranedal toe die Wallabies die Bokke op ʼn nat veld met 26-3 verinneweer het.

Dit was slegs die tweede Springboktoets nadat die Bokke weer toetsrugby kon speel en die verwagtinge was hoog, maar ai.

Nuweland se groot hoogtepunt was ongetwyfeld op 25 Mei 1995 in die openingswedstryd van die WB-toernooi toe die Bokke die Wallabies met 25-18 geklop het.

Toe Pieter Hendriks met ʼn gebalde vuis om David Campese gewals het, het die land stilgestaan.

Maar nou gaan daar slegs herinneringe wees wanneer Nuweland in 2021 vir eiendomsontwikkeling gebruik sal word. Herinneringe aan nat, koue en winderige Saterdagmiddae, die staanplekke, die Danie Craven-, Jan Pickard- en Spoorwegpawiljoen, die treine wat gereeld verby Nuweland geflits het, en die rugbymuseum van die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyraad langs Nuweland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael 1 ·

Dit is waar en baie hartseer en ek is n voorstander dat geskiedenis behoue moet bly maar in hierdie geval met die nuwe stadion is dit soos om jou ou ford bakkie in te ruil op n nuwe hillux.

Die Wolf ·

Wat gaan nou word van Nuweland? Gaan dit ook nou staan en vergaan soos sekere sokker stadiums?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.