Nou gaan die tjekboeke uitgehaal word

Rugbyrobotte glo gesoek. (Foto: damngeeky.com)

Rugbyrobotte glo gesoek. (Foto: damngeeky.com)

Jy kan nie alles met geld koop nie.

Jare gelede, toe agente nog huise verkoop het en spelers vir `n koevertjie en ietsie onder die kopkussing gespeel het, is daar al probeer om spanne te koop, maar dit was net so hier en daar suksesvol.

Toe rugby in 1995-‘96 amptelik professioneel geraak het, het die doelpale verskuif. Oorsese klubs word nou, net soos in sokker, deur sakemanne besit, wat `n besigheid bedryf.

Dis dus heel te verstane dat die skatryk Franse strokiesprentbaas en eienaar van Toulon, Mourad Boudjellal, briesend vir sy spelers is wanneer hulle onderpresteer.

Hy het die klub agt jaar gelede oorgeneem en Toulon het ongekende welslae behaal. Drie agtereenvolgende Europese titels (2013-2015) en die Franse Top14-kroon in 2014.

Toulon was so twee, drie jaar gelede beter as die meeste lande se toetsspanne, maar die wiel het gedraai, want die meeste van sy ster-spelers nader die einde van hul rakleeftyd, is beseer of nie beskikbaar nie weens hul internasionale verpligtinge: Duane Vermeulen, Matt Giteau, Bryan Habana, Drew Mitchell, noem hulle maar op.

Dis hoekom Toulon in die eerste paar wedstryde van die nuwe seisoen voortgeploeter het.

Wat gaan Boudjellal daaraan doen? Hy gaan straks sy agente na die Suidsee-eilande stuur, hy gaan `n strooptog in Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië probeer uitvoer, hy sal gewis nie daaraan dink om Franse spelers te ontwiklkel nie.

Die gewese Skotse vleuel Shaun Longstaff, wat `n spelersragent vir internasionale spelers soos Will Genia (Australië) , Simon Zebo (Ierland), Dan Cole (Engeland) en Tommy Seymour (Skotland) is, het in `n verreikende artikel op die BBC se webwerf die deksel van die kookpot gelig.

Volgens Longstaff word daar nie gesoek na spelskeppers nie, maar na rugbyfratse, spelers wat soos robotte by losskrums kan indons en skoonmaak, wat nie `n flenter oor hul eie welstand omgee nie.

Ek hoop nie dis heeltemal waar nie, maar as `n mens kyk hoe sekere van die Franse spanne (en ook van die Suid-Afrikaanse spanne) speel, is Longstaff nie ver van die kol nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.