Nou het John Mitchell nog minder hare

Handré Pollard. (Foto: GB Jordaan)

Ek is seker dat die Blou Bulle se afrigter, John Mitchell, baie diep daaroor nagedink het voordat hy besluit het om nie vir Handré Pollard en Rudy Paige te kies vir die naweek se Curriebekerwedstryd teen die Sharks in Durban nie.

Pollard en Paige is saam met vyf ander Bokke (die Westelike Provinsie se Dillyn Leyds, Damian de Allende en Wilco Louw) en Daniel du Preez en Chiliboy Ralepelle (Sharks) beskikbaar gestel om Curriebekerrugby te speel.

Tik my met ʼn veertjie om, maar was Ralepelle die hele tyd by die Bokke?  Gaan Robert du Preez vir Akker van der Merwe en Franco Marais eenkant toe skuif om hom speelkans te gee?

Mitchell weet presies hoe taai die toffie is, want hy was al aan weerskante van die spoor. As voorspelerafrigter van Engeland tussen 1997 en 2000, toe die hoofafrigter Clive Woodward en die  klubs nog nie om dieselfde vuur gesit het om spelers vir oefenkampe beskikbaar te stel nie; en toe Mitchell die All Blacks tussen 2001 en 2003 afgerig het.

Hy is in 2011 voor dieselfde keuse gestel toe hy die terugkerende Bokke, Butch James en CJ van der Linde, nie vir die Lions se seëvierende Curriebekerspan in die eindstryd teen die Sharks wou kies nie.

Kom ons weeg die twee pole teen mekaar op.

Pollard, weens beserings, het maande laas gespeel en verroes gelyk toe hy Saterdag teen die All Blacks opgestuur is. Mitchell is juis besig om ʼn nuwe kultuur en spelpatroon, wat ʼn baie vinnige tempo behels, by die Bulle te skep en ek weet nie of Pollard en Paige binne ’n week daarby sou kon inval nie.

Die Bulle is met die rug teen die muur, hulle moet die Sharks klop, en ook die volgende paar weke aan die wenkant bly, wanneer Pollard en Paige weer by die Bokke is.

Pollard en Paige sou ook nie in die Blou Bulle se beginspan gewees het nie. Watter baat sou hulle daarby gevind het om net vir 20 minute te speel?

Ook, as die Bulle verloor, word Mitchell se kop geëis.

Dus was daar eintlik net een keuse.

Dalk moes Pollard en Paige eerder aan klubs vrygestel word om ʼn hele wedstryd te speel. Dink net van watter waarde sou dit vir die klubspelers gewees het om saam met twee Bokke te oefen en te speel?

Maar nou is daar benewens die Goue Bekerreeks geen klubrugby nie – en dié twee kwalifiseer nie omdat hulle nie deur die jaar vir Quins-Bobbies gespeel het nie.

Aan die ander kant, moet die Bokke nie voorop gestel word nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jaybee ·

John Mitchell het beslis die regte besluit geneem. Hoekom AC Pollard in die Springbok groep opgeneem het na hy so lank beseer was sal net hy weet, oor Paige wil ek liewer niks sê nie, sy vertonings spreek vanself.

BR ·

Stuur Pollard na cheetas of kings hulle het hom hierdie naweek nodig.

Dries De Wet ·

Die keuse van HP vir die Bokke was totaal irrasioneel en Paige se vorm so swak dat hy in elk geval nie gekies sou word nie.

Nico ·

Dit was die regte besluit die bulle moet net weer kans gegee word

Koos1 ·

Los vir Mitchell. Ek glo hy weet wat hy doen. Onthou nog die Leeus, as die grap van SA Rugby. Wel hy het daar oorgevat en kyk vandag hoe goed hulle is. Sy spel patroon kan mens nog vandag daar sien (en nee ek maak geensins vir Ackies as nie ‘n slegte afrigter uit nie!).
Nollis Marias was nooit die regte man om die Bulle af te rig nie, en ek wonder nou nog hoe hy die joppie gekry het, maar nou ja, ons maak mos almal foute.

Lol ·

Pollard speel nou nog op sy O/20 reputasie? Ongelukkig het beserings en tekort aan selfvertroue sy lot ge-eis.

ChrisH ·

Mitchell het van die begin af gesê dat Pollard nie vir die bok groep gekies moet word nie. Hy is nog nie reg nie en moet saam die bul spanmaat oefen en dan van die bank af begin speel in die Currie beker.

Allister weet mos beter en kies Pollard vir die bok groep. Kry feitlik geen game tyd nie en ons almal het gesien dit geeindig het. Nou moet Mitchell hom kies vir 1 wedstryd by die Bulle en dan is hy volgende week weer rerug by die Bokke?? Bulle begin nou beter samespel lewer en Pollard gaan nie nou inpas nie.

Pollard moes npoit vir die Bok groep gekies gewees het nie, anders kon hy nou al 3-4 wedstryde agter die rug gehad het met die bulle.

Mitchell doen die regte ding om Allistair n put te druk…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.