Nou is die Bokke eers in die spervuur

Handré Pollard – kan hy vir die vonk sorg? (Foto GB Jordaan)

Daar is net een manier om die pyn van Suid-Afrika se mislukte Wêreldbekerbod te probeer verlig: Klop die Franse in Saterdagaand se rugbytoets in Parys, en doen dit deeglik.

Klou ons aan strooihalms vas?

Die Iere het dit in verlede Saterdag se toets in Dublin as motivering gebruik toe daar nog voorspel is dat Suid-Afrika die WB-toernooi in 2023 sal aanbied.

Die toekenning van die toernooi aan Frankryk gaan Suid-Afrikaanse rugby, wat reeds swaar onder die drukkende geldnood ly, op sy knieë dwing.

Daar is reeds ʼn hele paar bonde wat in die moeilkheid is en daar gaan baie hoë eise aan al die rolspelers in SA rugby gestel word om te oorleef, die spelers inkluis.

Om dit sagkens te stel, dis ʼn ramp wat SA rugby getref het toe Bill Beaumont, die voorsitter van Wêreldrugby, Woensdagmiddag in Londen die koevert met Frankryk se naam daarop oopgemaak het.

Frankryk was jare lank een van Suid-Afrikaanse rugby se grootste bondgenote – tot Woensdagmiddag.

Van nou af is dit ʼn stryd om oorlewing, en Frankryk is eerste in die visier.

Die eerste toets tussen die Hane en Springbokke is reeds in 1913 in Bordeaux gespeel toe die Bokke met 38-5 gewen het. Sedertdien het die Bokke nog 11 toetse in Frankryk gewen en net vyf verloor.

Die Bokke het die afgelope vyf toetse gewen, vier tuis en in 2013 in die St. Denis-stadion in Parys.

In die onstuimige rugbyjare toe die meeste lande Suid-Afrika die rug gekeer het, het die Franse in 1975 kom toer, en het in 1980 in ʼn laatmiddagtoets in November op Loftus Versfeld gespeel.

Verskeie Franse spelers soos Thierry Lacroix, Olivier Roumat, Fabian Galthie, Laurent Cabannes en Freddy Michalak het in die verlede Suid-Afrika hul tweede tuiste gemaak; en almal weet van die magdom Bokke, soos Bryan Habana, Frans Steyn, Jan Serfontein, Morné Steyn, Jannie en Bismarck du Plesss, Willem Alberts, Charl McLeod en Duane Vermeulen wat Frankryk hul tuiste gemaak het.

Maar daardie vriendskap is nou op die rotse.

Die Franse sal vol selfvertroue wees, al is hulle agtste op die wêreldranglys en die Bokke vyfde.

Hoekom? Want die Iere het verlede Saterdag die Bokke met 38-3 afgeslag en die Hane het die All Blacks in die tweede helte van hul toets opgedreun, al het hulle verloor.

Boonop is die Franse span behou terwyl Allister Coetzee tien veranderinge aan die Springbokgroep aangebring het. Tien veranderinge?

Ses Franse wat in die derde en laaste toets op Ellispark teen die Bokke gespeel het, is weer in die span, Nans Ducuing, Louis Picamoles, Kevin Gourdon, Rabah Slimani, Guilhelm Guirado en Jefferson Poirot.

Nog twee, Damian Penaud en Baptiste Serin is op die bank.

Sewe Bokke wat op Ellispark gespeel het, is in die opdrafspan: Andries Coetzee, Jesse Kriel, Courtnall Skosan, Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Malcolm Marx en Beast Mtawarira, met Dillyn Leyds wat van die bank af opskuif.

Kan die Bokke wen? Die beroepswedders dink nie so nie, die kenners ook nie, maar dalk, net dalk, kan die insluiting van Handré Pollard op losskakel vir die nodige vonk sorg wat die Bokke laat vlam vat.

Die spanne –

Frankryk

15 Nans Ducuing, 14 Teddy Thomas, 13 Geoffrey Doumayrou, 12 Mathieu Bastareaud, 11 Yoann Huget, 10 Anthony Belleau, 9 Antoine Dupont, 8 Louis Picamoles, 7 Kevin Gourdon, 6 Judicael Cancoriet, 5 Paul Gabrillagues, 4 Sébastien Vahaamahina, 3 Rabah Slimani, 2 Guilhem Guirado (kaptein), 1 Jefferson Poirot. Plaasvervangers: 16 Clement Maynadier, 17 Sébastien Taofifénua, 18 Daniel Kotzé, 19 Paul Jedrasiak, 20 Anthony Jelonch, 21 Baptiste Serin, 22 Francois Trinh-Duc, 23 Damian Penaud.

Suid-Afrika

15 Andries Coetzee, 14 Dillyn Leyds, 13 Jesse Kriel, 12 Francois Venter, 11 Courtnall Skosan, 10 Handré Pollard, 9 Ross Cronje, 8 Duane Vermeulen, 7 Siya Kolisi, 6 Francois Louw, 5 Lodewyk de Jager, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Wilco Louw, 2 Malcolm Marx, 1 Tendai Mtawarira. Plaasvervangers: 16 Bongi Mbonambi, 17 Steven Kitshoff, 18 Trevor Nyakane, 19 Franco Mostert, 20 Dan du Preez, 21 Rudy Paige, 22 Elton Jantjies, 23 Damian de Allende.

Afskop: 21:45 (SA tyd).

Verwagte weer: Geeltelik bewolk en koud (tussen 16 en 10°C)

Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis).

Assistent-skeidsregters: Wayne Barnes en Tom Foley (albei Engeland).

TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bantam ·

Handre is in , so dit is dan n uitgemaakte saak dat ons gemaklik gaan wen

Chrisjan ·

My geld is op die Hane vir ‘n goeie wen.Hulle sal wil wys hulle is die Wereldbeker 2023 aanbieding waardig.

Anoniem ·

Nee, plaas druk op die rolspelers en raak ontslae van geweld en plaasaanvalle – Gaan kyk na wat alles REG was in 1995 en wat alles verkeerd is in 2017 ! ! ! POLITIEK IN SPORT, KWOTAS
SELFONDERSOEK, RESPEK, OMGEE VIR MENSELEWENS – KEER TERUG NA GOD

bloues ·

Bantam, jammer maar dink mooi. Handre is daar maar daar is nie n skrummie nie. Net n stadige skakel after die voorspelers. Dit sal beter gaan maar of die bokke sal wen, die glo ek nie.

Veritas ·

Bantam, hou net in gedagte dat een swaweltjie nie ‘n somer maak nie. Pollard is, na my mening, strate beter as Jantjies maar hy het twee jaar gelede laas kompeterende rugby gespeel. Voeg daarby dat die Franse toerspan wat laas hier gespeel het, nie gemotiveerd was nie. Hulle het gespeel soos ‘n span wat net die toer agter die rug wou kry. Daar was geen teken van die vurigheid wat ons van Franse spanne gewoond is nie. My gevoel is dat die Bokke weereens in die hek gaan duik. Die inuiting van Duanne Vermeulen gaan gewis ‘n verskil maak maar hy kan nie alleen alles doen nie.

Herman ·

Pollard gaan homself weer beseer voor die einde van die eerste helfte of moontlik selfs tydens opwarming.

Niel Mare ·

Die Bokke het die eerste keer in 1907 teen n Franse vyftiental gespeel . By die geleentheid het Dietlof Mare 22 punte aangeteken , wat eers baaie later deur Gerald Bosch oortref is . Ongelukkig is die wedstryd nooit as n toets erken nie .

John ·

Hoe ons ooit weer sal wen? Geen kommunikasie tussen afrigter en spelers tydens ‘n wedstryd nie… nie eers vingertekens of waterbottels met briefies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.