Nou moet die Blitsbokke opstaan en terugveg

Daar is geen rede vir paniek nie, maar die Blitsbokke se vertoning in dié naweek se sewestoernooi in Hamilton, Nieu-Seeland, kan die rigtingwyser vir die res van die reeks wees.

Die waarskuligte het Sondag in Sydney in die eindstryd van die Australiese toernooi begin flits toe die onbesonge Australiërs die trots van Suid-Afrikaanse rugby met 29-0 in die eindstryd geklop het.

Waar was die goeie hantering, visie, vaart en besluitneming? Waar was die rotsvaste verdediging?

Almal weet dat sewesrugby onvoorspelbaar is, dat jy net so goed soos in jou vorige wedstryd is, maar dit was die futlose wyse waarop die Blitsbokke vertoon het, wat die vrae laat onstaan het.

Dit is onregverdig om die Blitsbokke op net een vertoning te beoordeel, want almal weet dat hulle ondanks die nederlaag weer by die Nieu-Seelanders as voorloper op die puntelys oorgeneem het.

Almal weet ook dat Nieu-Seeland en Fidji onvoorspelbaar is, dat Engeland, die Amerikaners, Skotte, Aussies, Keniane en Argentyne kan verras. Die meeste van dié spanne is in staat om enige span te klop, net om in die volgende wedstryd of toernooi vas te val.

Dis ʼn dobbelspel, dis ʼn skaakspel, maar die hoofrede waarom die Blitsbokke jarelank uittroon, is omdat hulle bestendig is; dat hulle nie maklik boedel oorgee nie.

Maar sonder die beseerde Philip Snyman en Ruhan Nel gaan daar die naweek baie diep gedelf moet word.

Boonop keer Kwagga Smith (Lions), Seabelo Senatla (Stormers) en Tim Agaba (Bulls) ná die toernooi terug na hul Superrugbyspanne… en dan kan die vet in die vuur wees.

Suid-Afrikaanse rugby is vuisvoos, baie sal sê reeds verby die kruispad. Dis hoekom daar na die (byna borglose) Blitsbokke opgesien word, om die ondersteuners aan hul graanvlokkies om die onbyttafel te laat smul, om met trots ʼn ondersteunerstrui te dra.

♦ Die Bokke is saam met Engeland in Groep B ingedeel, die maklikste groep saam met Rusland en Papoea-Nieu-Guinee.

Die Blitsbokke en Engeland sal na alle waarskynlikheid tot Sondagoggend se kwarteindronde deurdring.

Só speel die Blitsbokke Saterdagoggend:

01:04: teen Papoea-Nieu-Guinee.

04:30: Rusland.

08:04: Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.