Nou net 6 punte tussen Blitse en res

Suid-Afrika se afrigter Neil Powell (Desember 2017) (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die Blitsbokke het weliswaar beter in Vancouver as in Singapoer vertoon – hulle het immers nou vir Nieu-Seeland met 17 – 15 in ’n uitspeelstryd om die vyfde plek geklop –  maar daar lê beslis nog harde werk voor indien hulle aan die einde van die internasionale sewesreeks die pyp wil rook.

Die Suid-Afrikaners is steeds die voorlopers op die HSBC-punteleer, maar hul voorsprong het tot net ses punte gekrimp en spanne soos Argentinië en Australië blaas in hul nek.

In Neil Powell het die Blitsbokke egter ’n afrigter wat nie sommer doekies omdraai of eufemismes gebruik as hy oor sy span se vertoning praat nie.

“Dit was ’n uitdagende twee weke en dit is nie iets waaroor ons as span baie gelukkig is nie. Daar wag ’n paar harde gesprekke; nie net met die spelers nie, maar ook as ’n span. Ons het nie gespeel soos wat ons moes nie,” het Powell gesê.

“Ja, ons het beter in die laaste twee wedstryde gespeel, maar dit verdoesel hoegenaamd nie ons swak punte nie. Ons sal hard moet werk om te verseker dat dit nie weer in die komende toernooie gebeur nie.”

Die span was nie die goed geoliede masjien van ouds nie en bedenklike hantering en verdediging het hul spel teen Samoa in die beker-kwarteindstryd gekenmerk.

As ’n mens so na Powell luister, kan die Blitsbokke se vertoning in die laaste twee toernooie met ’n Katy Perry-treffer, Hot N Cold, vergelyk word.

“Ongelukkig het daardie ‘koue oomblikke’ ons baie duur te staan gekom. As afrigterspan sal ons daarna moet kyk en probeer verhoed dat iets soortgelyks weer sy kop uitsteek.”

Tog sien hy uit na die unieke uitdagings wat spanne soos die Kiwi’s, Samoa en Fidji bied.

“Ons moet teen sterk spanne speel en selfs al het ons teen Fidji en Samoa vasgeval, was ons wedstryd teen Nieu-Seeland ’n bewys dat ons suksesvol teen hulle kan wees.”

Die volgende toernooi begin op 20 Mei in Toulouse.

  • Jongste puntestand:
  1. Suid-Afrika: 111 punte
  2. Argentinië: 105 punte
  3. Australië: 100 punte
  4. VSA: 70 punte
  5. Ierland: 69 punte
  6. Fidji: 65 punte
  7. Frankryk: 64 punte
  8. Engeland: 51 punte
  9. Spanje: 38 punte
  10. Kenia: 37 punte
  11. Nieu-Seeland: 31 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

johan ·

Die Bokke het al hul punte opgebou toe net swak spanne deelgeneem het.

piet ·

Net Fiji en NZ was nie daar nie. NZ lyk my val in elk geval uit die bus uit. Fiji sou egter ‘n probleem kon wees.

Shakespeare ·

Die 7s span het pateties gespeel op alle vlakke teen Fiji. Al wat ek kan sê is dat hulle omgekoop is. Hul foute was absoluut 100% teen hul gewone spelpeil.

Oom ·

Wat ‘n patetiese vertoning teen Samoa. Het halfpad ophou om na YouTube-uitsending te kyk. ‘n Mens het darem nog jou eie trots. Uit die kommentators se reaksie kon mens aflei dat hulle nie veel van die Floubokke gedink het nie.

Casper ·

My eie waarneming is soos volg:
1 Neil Powell het nie meer die wil om at te rig nie,hy sien dollars by die Sharks.
2 Al die staatmakers speel nou 15 man rugby.
3 Die huidige spelers is nie meer toegewyd nie
4 Vedediging en spel skepping is nie meer daar nie.
5 Ons sterkste wapens spoed en verdediging het ons in die steek gelaat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.