Nou vir die grote , Bokke!

imagesCAJQWTX2Die Bokke kom eerskomende Saterdag teen waarskynlik hul grootste uitdaging van die jaar te staan: Die All Blacks in Auckland.

Die Bokke is nie net die besoekers in ’n land waar hulle tradisioneel gesukkel het om te wen nie, maar hulle speel teen die wêreldkampioene wat tot introspeksie gedwing is deur ’n flouerige vertoning teen die Argentynse Los Pumas. Die All Blacks het die Suid-Amerikaners met 28-13 geklop, maar het in alle fasette harde bene gekou en kon nie vier drieë vir ’n bonuspunt druk nie.

Indien die Bokke hierdie kan deurtrek, is hulle die waarskynlike kampioene in 2013 se Rugbykampioenskap. Indien nie, sal hulle hard moet spook in hul tuiswedstryde teen die Wallabies en All Blacks om bonuspunte te verwerf en só bo die All Blacks op die puntelys te eindig.

Heyneke Meyer het sy troepe tot nederigheid gemaan ná hul historiese 38-12 sege teen die Wallabies in Brisbane. Hy het tewens bygevoeg dat hulle steeds nie die gunstelinge in Auckland gaan wees nie – en hy verkies dit só. Hierdie Bokspan het egter minagting vir rekords en geringskatting begin toon en hierdie naweek kan hulle dalk die wendroogte van 76 jaar by Eden Park aan bande lê.

Meyer het nie getorring aan sy wenresep nie en sy 23-lid span onveranderd gehou vir die stryd teen die All Blacks. Die All Blacks sal ’n baie meer fisieke aanslag as die Wallabies lewer en dit is stellig hoekom Meyer vir Bismarck du Plessis op haker behou en Adriaan Strauss later sal opstuur. Ditto Flip van der Merwe se rol as stormram in die plek van Juandré Kruger.

Laasgenoemde rangskikking is ’n effense dobbelspel wat hopelik vrugte sal afwerp. Nadat die All Blacks in die lynstane teen die Aussies gesukkel het, het Brodie Retallick en kie baie goed vertoon teen die Poemas en heelwat van hul lynstaanballe afgeneem. Kruger se weglating kan straks ’n paar probleme vir die Bokke daar skep as die All Blacks hul kanse goed benut.

Meyer het Zane Kirchner beloon vir sy skaflike vertoning in Brisbane en hy sal op sy hoede moet wees omdat die All Blacks bekend is vir hul voorliefde vir taktiese skoppe.

Twee veranderlikes kan egter ’n uitwerking op die dinamika van die wedstryd hê.

Die All Blacks benader hierdie wedstryd egter met een groot tekortkoming: Hul kaptein, Richie McCaw. McCaw se leierskap bring kalmte en selfvertroue na enige span en sy invloed sal in hierdie allerbelangrike stryd erg gemis word deur die All Blacks. Sy ander bekende vermoë, omkeerbesit, gaan ’n reuseleemte laat en dit is juis waar die Bokke in Francois Louw tans uitnemend is.

Dit is juis die losspel waaroor die Bokke bekommerd is, aangesien die Franse skeidsregter Romain Poite die wedstryd gaan behartig. Poite het die nagmerrie-wedstryd tussen die Bokke en Skotland in Junie geblaas en sy vertolking van die reëls oor spel by die afbreekpunte het die Bokke tot raserny gedryf.

Een voordeel vir die Bokke (McCaw se besering) word dus geneutraliseer deur ’n nadeel – ’n vreemde reëlvertolking.

Suid-Afrika:

15 Zane Kirchner, 14 Willie le Roux, 13 JJ Engelbrecht, 12 Jean de Villiers (Kaptein), 11 Bryan Habana, 10 Morné Steyn, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Willem Alberts, 6 Francois Louw, 5 Flip van der Merwe, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira.

Plaasvervangers: 16 Adriaan Strauss , 17 Gurthrö Steenkamp, 18 Coenie Oosthuizen, 19 Juandré Kruger, 20 Siya Kolisi, 21 Jano Vermaak, 22 Pat Lambie, 23 Jan Serfontein

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.