Die Overbergse klub Hawston het vanjaar die eerste keer in sy bestaan die Bolandse Grootuitdaagbeker gewen, nou is die uitdaging om hom teen die land se beste te kan meet.
Om dít reg te kry, moet hy egter aanstaande seisoen sy Overbergse en Bolandse titels behou sodat hy die bond aanstaande jaar in die oop klubs se internasinale reeks om die Goue Beker kan verteenwoordig.
Godfrey Matinka, die klub se voorsitter, sê deelname aan dié reeks sal Hawston se ware karakter en vermoëns toets.
“As span aanvaar ons die uitdagings en druk wat met sukses gepaard gaan. Ons weet en besef dat ons nie op ons louere moet rus nie, en baie harder sal moet werk om weer te slaag en die sukses te handhaaf.”
Matinka en Warren Maree, die klub se hoofafrigter, het koppe bymekaar gesit om Pale Toe! meer van die afgelope seisoen se prestasie te wete te laat kom.
Hulle is dit eens dat die span se sukses deur harde werk en toewyding bereik is. Die druk wat in die uiters mededingende uitspeelrondes verwerk moes word, was enorm, maar in die groepfase was die span by tye nie so toegewyd nie, seker maar omdat hy op sy louere begin rus het toe besef is geen span kan hom meer inhaal nie.
“Spanwerk, die toewyding van die spelers, trots, hartstog en nederigheid was die hoekstene van die sukses.
“Die span het geen geen groot name of uitmuntende spelers nie. Dis `n kwessie van ‘ons span, my klub’. Die hele span verdien erkenning omdat hy juis as eenheid so goed vaar en nie op enkelinge staatmaak nie.
“Dit het eweneens die groepfase gekenmerk. Spanbelange is deurlopend beklemtoon, en vir prima donnas was daar geen plek nie. Die spelers het sonder uitsondering hulle agter dié visie en die wedstrydplan geskaar. Dit was werklik `n kollektiewe poging om sukses te bewerkstellig.
Aanslag en veldslag
“Elke span in die liga wóú Hawston klop. Dit was onder meer teen Botrivier duidelik – en die week daarop verloor hy (Botrivier) toe teen `n span wat tweede of derde laaste was.
“Hawston moes elke aanslag en veldslag afweer, en wedstryde met totale durf en toewyding benader aangesien die teenstanders nie omgegee het om teen ander spanne te verloor nie, net nie teen Hawston nie. “Die span het week ná week probeer om `n bepaalde peil te handhaaf, maar daar was wel tye waar die manne dalk slap gelê het, of beserings hulle so `n bietjie gekniehalter het.
“Ná elke swak wedstryd het hulle egter opgestaan en getoon hoe genadeloos en toegewyd hulle kan wees,” het die voormanne laat weet.