Nou’s dit Griffons se beurt om boontoe te beur

ʼn Mens onthou maar al te goed hoe Natal in die tagtigerjare gesukkel het om hulle halfeindstryd te wen om terug in die destydse A-afdeling van die Curriebekerreeks te kom.

Vrydagmiddag is dit weer sulke tyd, hierdie keer in Kimberley waar Griekwas hul teenstanders, die Griffons, se heldededade van daardie tydperk moet nadoen toe die Noord-Vrystaat telkens vir Natal gefnuik het.

Die wenner van hierdie promosie-relegasiewedstryd sal aanstaande jaar in die Curriebekerreeks speel – natuurlik mits daar nie weer aan die reeks se struktuur gepeuter word nie. Die rugbybase kan mos net eenvoudig nie tot ruste oor die kwessie te kom nie.

Om ʼn voorspelling of geld te waag op ʼn eindstryd of promosie-relegasie-stryd is nooit slim nie. Miskien, net miskien, is dit die ervaring wat die spelers van Griekwas in die Premierliga opgedoen het wat hulle sal deurtrek. Hulle het immers met ondermeer Saterdag se Curriebeker-finalis WP in die liga klaargespeel.

Griekwas, wanneer hulle op hulle stukke was, het pragtige kontinuïteit in hul spel ingebring en deur ʼn wedstryd behou.

Maar tog dink jy dat dit hulle vermoë is om te keer wanneer dit saak maak, wat die deurslag sal gee.

Die Griffons het darem die voordeel dat hulle laaste vier wedstryde taai was en twee teen die Luiperds en een elk een die Boland en die neerlaag teen die Bulldogs ingesluit het.

Hulle sal dus nie te groot skrik vir die Kimberliete nie.

♦  Dit tel wel nie ʼn snars in die wedstryd nie, maar hier is so ʼn tikseltjie statistieke: George Whitehead van Griekwas se 96 punte was die meeste van al die spanne in die premierliga se ligafase, en die sterk vleuel Ederies Arendse se sewe drieë is net soveel as die hoogaangeskrewe Vrystater Makazole Mapimpi s’n.

Insgelyks was die Griffons se voorste puntemaker in die Eerste Liga, Guan Kotze, met sy 111 punte, ook die voorste in dié reeks. Tertius Maarman het ook sewe keer gaan druk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.