Wanderers van Windhoek en Western Suburbs sit hul wedloop teen die Universiteit van Namibië (Unam) voort wanneer die Namibiese Premierliga Saterdag hervat word.
Unam wat met 25 ligapunte boaan die punteleer is, speel teen die agteros Reho Falcons (Rehoboth) en kan nog vyf punte inoes.
Wanderers, wat verlede jaar aan die internasionale reeks om die Goue Beker deelgeneem het, staan op 19 en speel weg teen Rehoboth; terwyl Suburbs met 18 Walvisbaai toe reis om met Walvis kragte te meet.
In die ander wedstryd Saterdag speel Kudus (Walvisbaai) tuis teen United (Windhoek).
Keetmanshoop speel sy eerste ligawedstryd vanjaar wanneer hy in die Eerste Liga (Suid) teen Ocean Swallows van Lüderitz te staan kom.
In ʼn kattegeveg in die Eerste Liga (Noord) speel die agteros, Jaguars, in Katatura teen die voorloper, Etosha Lions.
Die tweede geplaasde Otjiwarongo speel in dieselfde afdeling teen Oshakati Rebels wat albei sy wedstryde dusver verloor het.
In die Westelike afdeling speel die voorloper, Eastern Bulls van Gobabis, tuis teen die Dolphins van Swakopmund; en die agterosse, die Namibiese Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (NUST) en die Erongo-rugbyakademie (ERA) sê mekaar die stryd aan.
Opgesomde punteleer –
Premierliga
Unam 25, Wanderers 19, Suburbs 18, Kudus 14, Rehoboth 12, United 11, Walvisbaai 10, Reho Falcons 3.
Reserweliga
Unam 25, Suburbs 22, Falcon 19, Wanderers 15, Kudus 10, United 7, Rehoboth 6, Walvisbaai 0.
Eerste Liga
Wes
Eastern Bulls 20, West Coast Sharks (Swakopmund) 18, Unam III 9, Dolphin 5, ERA 4, NUST 1.
Noord
Etosha 12, Otjiwarongo 12, Grootfontein 11, Oshakati 0, Jaguars 0.
Suid
Swallows 5, Oranjemund 2, Keetmanshoop 0.