Nuwe aanskyn vir Goue Leeus se klubligas

glru-logo-crop-jpgDie Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se klubligas kry aanstaande seisoen `n nuwe aanskyn blykens die bepalings wat Donderdag deur die bond uitgereik is.

Pieter Visser, die bond se bestuurder vir amateurrugby, sê dis gedoen om krag teen krag te laat speel.

Die meeste spanne wat in 2o16 in die reeks om die Senior Grootuitdaagbeker gespeel het, speel aanstaane jaar in die eerste ronde van die reeks om die Pirates-grootuitdaagbeker, wat in twee groepe verdeel word. Aan die einde van die eerste ronde speel die onderste twee spanne in Groep 1 teen die boonste twee spanne in Groep 2 met die oog op `n herskikking in die tweede ronde.

Visser het aan Pale Toe! gesê die bevorderde span sal die ligapunte oorneem van die een wat afskuif en die tweede ronde gaan daarna normaalweg voort.

Groep 1 bestaan uit die NWU Pukke, Pirates, Raiders, Randfontein, Roodepoort, die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van die Witwatersrand en Wanderers.

Groep 2 bestaan uit Alberton, Diggers, Germiston Simmer, Harlequins, Johannesburg Polisie, Soweto/Jabulani en Unie.

Khosa (Krugersdorp High School Old Students Assosiation) wat verlede jaar nog aan die SGU-reeks deelgeneem het, het intussen deels met Quins saamgesmelt, maar van die spelers het by ander klubs aangesluit.

Jabulani is tot die PGU-reeks bevorder nadat hy verlede jaar die Presidentsliga vir ontwikkelingsklubs gewen het. In nog `n samesmelting het die sukkelende Soweto-klub by die kampioenklub ingeskakel.

Die Presidentsliga word aanstaande jaar in die SGU opgeneem, wat in wese `n ontwikkelingsliga word en oor twee rondes beslis word.

Verlede jaar se SGU-agterosse Tshuma Stingers en UJ Soweto speel saam met die gewese Presidentsligaklubs Alexandra Wolves, Eldoronians, Kagiso en Southern Knights in die nuwe SGU.

Die vier topspanne sal die SGU-halfeindstryd betwis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.