Nuwe Cheetah druk eerste toetsdrie vir Amerika

Ruben de Haas – eerste toetsdrie. (Foto: Cheetahs)

ʼn Onlangs gekontrakteerde Cheetahs-speler het Saterdag sy eerste toetsdrie vir Amerika gedruk toe die Arende die tuisspan in Halifax, Kanada, om die Can-Am-beker geklop het.

Die besoekers het met 42-17 gewen (rustyd 13-3).

Dit was Ruben de Haas (20), wat in George gebore is, se vierde toets. Hy het Amerika ook op o.19- (as kaptein) en o.20-vlak verteenwoordig.

Hy het minder as ʼn maand gelede ʼn kontrak vir twee jaar met die Cheetahs gesluit.

De Haas se pa, Pieter, en sy oupa, Gerard, het albei Curriebekerrugby vir die Vrystaat gespeel.

Amerika, wat deur ʼn gewese hulpafrigter van die Springbokke, Gary Gold, gebrei word, het die wedstryd in alle opsigte oorheers.

♦ Intussen het die webwerf Americas Rugby News (ARN) nie minder nie as drie spelers met Suid-Afrikaanse wortels ingesluit in sy span van die week, gegrond op die vorige week se vertonings.

Hulle is Hanco Germishuys (flank), Shaun Davies (skrumskakel) en JP Eloff (binnesenter).

ARN sê die vlak van mededinging teen Skotland (Amerika het met 30-29 gewen) was die hoogste waarmee Germishuys tot dusver te doene gekry het, maar hy het geensins daarvoor teruggedeins nie. Hy was ʼn krag met die bal in die hande, en g’n fout kan met sy toewyding gevind word nie.

Volgens die webwerf kan geen Amerikaanse skrumskakel kers vashou by die blitsigheid waarmee Davies die oond skoonmaak nie.

“Hy hou sy span op die voorvoet, en die duikslag waarmee hy ʼn Skotse drie voorkom, en die oorwinning vir sy span verseker het, sal nog vir baie jare in herinnering geroep word.”

Eloff se 26 punte vir New Orleans Gold in die Amerikaanse Senior Rugbyliga teen Utah Warriors het sy plek in die span verseker.

♦ Trinidad & Tobago (T&T) het nie Saterdag sy verpligting in die Rugby Amerikas-kampioenskap (RAK) teen die VSA Suid Panthers nagekom nie, en is uit die reeks geskors. Alle wedstryde teen hom word van die punteleer geskrap, waar hy tweede was.

Die laaste wedstryd tussen die voorloper en verdedigende kampioen, die Panthers, en die naasvoorloper, die Kaaimanseilande, sal in wese ʼn eindstryd wees.

Albei spanne het tot dusver vanjaar gewese Suid-Afrikaners ingesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.