‘Nuwe’ Cheetahs se durf en verdediging beïndruk

Waar kom hierdie ‘nuwe’ Cheethasspan van die afgelope weke vandaan?

Met puik verdediging wat die persepsie besweer het dat die Vrystaters  nie kan verdedig nie, was hulle poging nietemin nie goed genoeg nie en het hulle Vrydagaand op die Vrystaatstadion met 26-29 teen die onoorwonne Glasgow Warriors verloor.

Dit was hulle eerste neerlaag na drie bonuspunt-oorwinnings op hulle tuisveld.

Glasgow het net-net verdien om hierdie goeie wedstryd te wen, waar die voorlopers kort-kort van hul voorsprong moes afstand doen. Dat die wenpunte net drie minute voor die einde gekom het, is dalk ook net die bewys dat Glasgow, benewens hulle spantrots om dit ses uit ses oorwinnings te maak, besonder fiks is.

Hulle is bekend daarvoor dat hulle teen ʼn hoë tempo speel, en hulle het dit volgehou – en al is Bloemfontein darem nie die Hoëveld nie, was dit die Warriors wat na die rustyd-agterstand van 10-17 teen die einde die beste span was.

Maar die vraag bly staan: hoekom speel die Cheetahs nie jaar in en jaar uit hierdie soort rugby nie? Hulle het met dringendheid in die losskrums ingeklim, die agterspelers het wyd gespeel maar nogtans spasie aan die buitekant geskep en hulle het die Skotse span flenters geskrum.

Volpunte moet hier aan Tom Botha, Torsten van Jaarsveld en Charles Marais gaan wat die eerste 70 minute of so die een strafskop na die ander teen die besoekers afgedwing het.

En so van Van Jaarsveld gepraat: hy was (weer) verwoestend, of dit by die afbreekpunte was of wanneer hy geduik of aan die hardloop gegaan het.

In ʼn pak agttal, wat saam gejag, gekeer en gedryf het, was Paul Schoeman ook ʼn absolute yster.

Dan het Rory Duncan-hulle, benewens die ommekeer wat hulle op die verdediging, teweeg gebring het, ook met die Maties se Varsitybeker-losskakel Ernst Stapelberg raakgevat. Agttien punte Vrydagaand, maar meer nog, gesag en ʼn koelkop, beteken dat hierdie kans in die plek van die Vrystaatse beseerde losskakels ʼn deurbraak kan wees.

♦  Die Cheetahs na vier tuiswedstryde nou twee af-Saterdae voordat hulle op 28 Oktober in Italië teen Zebre speel. Die week daarna draf hulle weg teen Connacht uit voordat hulle na twee weke se rustyd op 25 November weer in Bloemfontein, teen Edinburgh, speel.

Puntemakers –

Cheetahs (17) 26: Drieë: Sergeal Petersen, Rosko Specman. Doelskoppe: Ernst Stapelberg 2. Strafdoele: Stapelberg 4.
Glasgow Warriors (10) 29: Drieë: Rob Harley, Henry Pyrgos, Callum Gibbins 2. Doelskoppe: Finn Russell 3. Strafdoel: Russell.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

rollie ·

So die Cheetahs is nou bly dat hulle net-net verloor het in ‘n tuiswedstryd. Swak.

Kobus ·

Mens kan nie altyd wen nie. Goeie sportman aanvaar sy verloor. Dit was n beter span, maar die Cheetahs het goed gespeel en alles gegee

Jodu ·

Rollie, mense wat net die negatiewe wil sien is ‘n klomp bollie!

Eish ·

Belaglik, dis feite. Wat die situasie wel positief sou beïnvloed was indien dieselfde telling op dieselfde plek teen n volsterkte All Blackspan behaal is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.