Nuwe DB-voorsitter se ‘rugbydrif onblusbaar’

durbellDie nuwe voorsitter van Durbanville-Bellville, voorverlede jaar se wenner van die oop klubs se Goue Beker, het `n “onblusbare hartstog” vir rugby, wat hy as “die uitnemendste van alle sportsoorte” bestempel.

Ernst Koen, wat pas in die pos verkies is, beskou homself in die eerste plek as `n afrigter, en sy nuwe amp gaan hom nie keer om die klub se tweede span te brei nie.

Hy het langer as 30 jaar gelede as speler by Durbell aangesluit, en sy drif vir die spel is opnuut aangeblaas toe hy in die Paarl met die afrigting by sy seun se laerskool betrokke geraak het.

Koen sê hy is dadelik vasgevang. Ná 25 jaar as `n klubgholfspeler het hy genoeg daarvan gehad, en na sy eerste sportliefde, rugby, teruggekeer.

“Die aantrekkingskrag was groot om met die opvoeding van jong seuns op en van die rugbyveld te help, en die uiteinde was dat ek die afgelope klompie jaar die o.13-seuns in `n uiters mededingende omgewing afgerig het.

“My belangstelling is daardeur aangevuur… en ek was op die uitkyk vir `n uitdagender afrigtingspos… toe Durbell by monde van die hoofafrigter, Bobby Joubert, my genader het om my as kandidaat vir die pos beskikbaar te stel.

“Ná heelwat oorweging, rype beraad en bespreking met familie en vriende het ek besluit om die uitdaging te aanvaar.”

Koen sê hy is glad nie spyt daaroor nie, en al het rugby sedert sy speeldae wesenlik verander, het hy deurentyd van die laagste tot die hoogste vlak in voeling met die spel gebly.

Hy glo die gevestigde bestel by die klub, die sterk ondersteuning uit die gemeenskap, en die bekwame personeel op en van die veld af sal sy taak vergemaklik om eienskappe soos karakter, klas en kultuur verder uit te bou.

Die res van die bestuur is onverander en bestaan uit Darron Nagel (ondervoorsitter), Dirk Coetzee (penningmeester), Nicole Retief (klubkaptein), Jean Damant (wedstrydsekretaris en WPRU-skakelbeampte), Wayne Thorreson, Tim Hartle, MC Leonard, Peter Virgin, Gilliam Sinclair (lede) en Marika Coetzee (geriewebestuurder).

Virgin, wat verlede seisoen as die beste spanbestuurder in die internasionale reeks om die Goue Beker aangewys is, sal weer die eerste span bestuur. Sinclair verteenwoordig die korps van oudspelers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.