‘Nuwe franchise’e’ vat die pad na die haai Karoo

De-jay Terblanché – drie in rekordstryd. (Foto: André Meintjies/Pumas)

Die twee “nuwe franchise’e” wat deur die SA Rugbyunie (Saru) toegestaan is, is op pad na die Klein-Karoo om die SuperSport-reeks se eindstryd te betwis.

Die Pumas en Griekwas, wat plek iewers in ʼn oorsese reeks soek, het Vrydag en Saterdag hul onderskeie halfeindstryde in die plaaslike tweedevlakreeks gewen.

Griekwas was teen rustyd Saterdag al 24-0 voor in sy bra mak derbystryd in Kimberley teen die Vrystaat-vyftiental, en het op die ou end met 27-14 gewen. Hulle het in die tweede helfte grootliks hul voorsprong verdedig.

Het die Vrystaters hul gô teen die Westelike Provinsie uitgespeel?

In Nelspruit het die Pumas die Sharks-vyftiental Vrydagaand oortuigend met 30-17 verslaan.

Daar was tot rustyd niks te kies tussen die twee spanne nie (10-10), maar in die tweede helfte het die tuisspan sy kanse beter benut en die hef in die hand gekry.

Die Pumas se losskakel, Chris Smith, het 15 punte met drie doelskoppe en drie stafdoele behaal.

Hul bankstut De-jay Terblanché het sy 184ste wedstryd (ʼn nuwe Pumas-rekord) met ʼn drie gevier.

Watter sin dit maak, of watter baat Suid-Afrikaanse rugby daarby sal vind om die twee spanne al die pad van Nelspruit en Kimberley af Oudtshoorn toe te laat karring vir die eindstryd Sondag, duisel die verstand.

As dit tot voordeel van Suid-Afrikaanse rugby is, om dié twee bonde in franchise’e te ontwikkel, sal dit seker ook ʼn bietjie help om een van hulle (die ontneemde gasheer) die geleentheid te bied om sy plaaslike ondersteunersbasis te verbreed.

Wat bied ʼn beter geleentheid hiertoe as ʼn eindstryd tuis?

Of gaan dit in die eerste plek om hoeveel Sondagkykers SuperSport kan wen?

Maar wat, is daar nog regtig iemand in die hoogste rugbyraadsale wat omgee wat van die spel in Suid-Afrika word?

Die puntemakers –

Griekwas 27 (24) – Drieë: Pieter van Vuuren, Khwezi Mkhafu, Kyle Steyn. Doelkoppe: George Whitehead (3). Strafdoele: George Whitehead (2).

Vrystaat 14 (0) – Drieë: Jasper Wiese, Carel-Jan Coetzee. Doelskoppe: Ernst Stapelberg (2)

Pumas 30 (10) – Drieë: Ruwellyn Isbell, De-jay Terblanché, Stefan Ungerer. Doelskoppe: Chris Smith (3). Strafdoele: Chris Smith (3).

Sharks 17 (10) – Drieë: Gideon Koegelenberg, Kwanda Dimaza. Doelskoppe: Garth April, Danrich Visagie. Strafdoel: Garth April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.