Nuwe hoofafrigter wil wen om Loftus te vul

Die Bulls en Blou Bulle se nuwe hoofafrigter se prioriteit is om ’n wenkultuur by die franchise en bond te herstel en sodoende weer Loftus Versfeld se sitplekke te vul.

Pote Human het dié versekering gegee op die nuuskonferensie Dinsdag in Pretoria toe sy aanstelling in dié poste aangekondig is.

Die voorsitter van die Blou Bulle-maatskappy (BBM), Willem Strauss het ook bevestig dat die ervare afrigter Alan Zondagh as direkteur van afrigting aangestel is.

Hy is vir drie jaar aangestel, en Human se aanstelling duur voorlopig vir die jaar wat sy huidige kontrak met die BBM nog geld.

Die BBM-voorsitter het gesê hy verstaan die onsekerheid rakende ʼn afrigter se toekoms en gesinsoorweginge het Victor Matfield, wat as ʼn gunsteling vir die pos beskou is, aan die wedloop laat onttrek.

Hy het ook bevestig dat Rassie Erasmus, in sy hoedanigheid as SA Rugby se rugbydirekteur, van 3 Januarie 2019 af met die verbetering van vaardighede in Pretoria sal help, en dat gesprek Woensdag met hom oor die besonderhede hiervan gevoer sal word.

Strauss het gesê dis “ongelooflik belangrik” om ’n wenomgewing te skep ná waarskynlik die skraalste agt jaar in die Bulls en Blou Bulle se geskiedenis, en die BBM sal “agteroorbuig” om Human in sy taak by te staan.
Human het gesê die franchise het die regte spelers en sal met geringe wysigings voortbou op die fondament wat John Mitchell gelê het.

Hy wil veral die span se eindpogings verbeter en die spelers se vaardighede opknap.

Zondagh het bygevoeg dat spelers geslyp moet word om konserwatiewe rugby ewe goed as hardlooprugby te speel.

Hy het onder meer daarop gewys dat dit niks help nie dat ’n span onderouderdomsreekse wen as daar nie van die jong spelers ontwikkel word om hul plekke in Superrugby vol te staan nie.

Zondagh het gesê dit duur normaalweg sowat vyf jaar vir ʼn speler om van onderouderdomsrugby (18 jaar) tot Superrugby (23 jaar) te ontwikkel.

Hy beskou dit as sy taak om gesonde strukture daar te stel, wat sowel die eise van finansies as van ontwikkeling die hoof sal bied.

♦ Human, ’n gewese SA Skole-speler, het in 116 wedstryde vir die Oostelike Provinsie en in 84 vir die Vrystaat gespeel voordat hy in 1995 begin afrig het. Hy was die hoofafrigter van die Blou Bulle wat die Curriebeker in 2006 met die Vrystaat gedeel het, en ʼn hulpafrigter van die Bulls wat die Superrugby-titel in 2007 gewen het. Hy is sedert 2016 weer by die BBM betrokke.

♦ Zondagh was onder meer die WP se direkteur van afrigting van 1980 tot 1988 – ʼn tydperk toe die Streeptruie die Curriebeker vyf keer gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Malherbe ·

Ek hoop Mnr Barend van Graan is ‘n leser van Maroela? Indien wel wil ek hom vra, sien dit as jou laaste “kommunikasie” met ondersteuners voor jy aftrede, wat het regtig en ek bedoel REGTIG agter die skerms met Victor gebeur? Hoekom wou hy nie teken nie? Ons koop NIE die storue van die gesinslewe en werks-onsekerheud nie. Victor het jare gespeel, toe hy aansoek gedoen het vir die pos, het hy PRESIES geweet waarvoor hy hom inlaat. Dus, ons glo NIE jul “weergawe” nie. Iets MOES gebeur het. Jul ondersteuners het die reg om te weet. Wees deursigtig asseblief. Vertel vir ons een keer die WARE feite, nie koue oorskietkos wat julle die afgelope paar jaar vir ons vertel het nie. ASSEBLIEF Barend

Daniel ·

Bestuur van Maroela: ek stem saam met Malherbe. Wil julle nie asb vir Barend v Graan nader en kommentaar vra nie? Maar wees versigtig, die BBM en BBRU het ‘n geskiedenis dat hulle nie volle antwoorde gee nie, net sulke halfgebakte antwoorde wat eintlik tuishoort tydens die propoganda eeue. Ek vermoed ook dat iemand ons nou weer net probeer “paai” met allerlei halwe waarhede.

JJ ·

Malherbe en Daniel, julle slaan die spyker op sy kop! MAROELA, asseblief, vra asb vir Oom Barend wat die feite is. Soos genoem, Victor het geweet van die impak op sy gesinslewe en die onsekerheid van langer termyn inkomsste, tog het hy sy nasm in die hoed gegooi. Dis is dus onmoontlik dat hy dit nou ewe skielik uit die bloute besef.

Henk ·

Beste ding ooit wat met die Bulle kon gebeur. Matfield het meer as sy pond vleis geeis. Hy kon nie as afrigter slaag onder Meyer nie en ook nie by die Leeus nie. Hy sou ook nie die mas by die Bulle opkom nie.

Gatvol ·

M was n uitstekende speler maar,as afrigter het hy nie die dissipline wat Human het nie. Geld was moontlik ook n oorsaak.

MTSteyn ·

Vreemd, Henk, dat jy met soveel rugby kennis en intieme inligting oor die onderhandelinsproses dan nie self op die kortlys van drie verskyn het waaruit die hoofafrigter aangestel sou word nie?

Die BBM sou waarlik baat kon vind by hierdie rugbykenners, en die gepaste ding sou wees dat julle jul self beskikbaar stel aan Alan vir die bied van nodige hulp aan die unie.

Spark Plug ·

Met Pote aan die stuur en Rassie wat die laaste se het kan jy seker wees dat die aanstelling slegs gebeur het met die verstandhouding dat rassie die spankeuse sal maak en die kitaar slaan. Pote sal ja en amen en Victor wou nie daarvoor instem nie so nou sit ons slegter af as laas jaar. Volgens my behoort ons vlg jaar laaste op die log te eindig met pote se spel patroon

Paul ·

Dit sal nogal skeeusnaaks wees as Pote vir Loftus tjok-en-blok kan vul en die res van die land se stadions bly dolleeg.

Jacques ·

Ek glo ook nie die redes vir Victor se onttrekking nie. Nou verwag Rugby Unies dat ondersteuners lojaal moet bly en stadiums vol maak!! Wat ‘n grap. As hulle nie eerlik met hulle ondersteuners is nie hoe kan hulle lojaliteit verwag. Ek sien nog ‘n moeilike jaar vir die Bulle en nog steeds lee pawiljoene.

Frans C ·

Hoekom is Suid Afrikaanse Unies altyd agter NZ wat reeds op 31 Oktober 2018 hul
spanne en afrigters bekend kon maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.