‘Nuwe’ Kings moet hierdie wegspringkans benut

Natuurlik verander die krag van spanne van een seisoen na die volgende, maar bloot geoordeel aan verlede seisoen, spring die Kings in die 2018/19-reeks om die Pro14-titel teen hul maklikste teenstander weg.

Die Kings draf Vrydagaand (20:35 SA tyd) in die Stadio Sergio Lanfranchi in Parma teen Zebre uit, wat soos die Kings in die vorige Pro14 laaste in hul afdeling was en naas die Kings die swakste in die reeks gevaar het.

Daar is egter drie waarskuwingsligte waarop die Kings sal moet let as hulle bloot aanvaar Zebre is kanonvoer. Die Italianers het verlede jaar in die Nelson Mandelabaai-stadion met 43-17 teen die Kings gewen, ses drieë teen twee gedruk en sewe van hul 21 wedstryde teenoor die Kings se enkele oorwinning in die reeks gewen.

En hulle het ook hul laaste drie wedstryde in die vorige reeks gewen.

Dit is ʼn nuwe Kingsspan wat Vrydagaand speel. Daar is ses Pro14-groentjies in die wedstrydgroep van 23.

Hulle het beter voorseisoense voorbereiding gehad, maar geld het ook dít gekortwiek met heelparty spelers wat eers later by die span kon inval en een wat trouens eers die afgelope week aangemeld het.

Deon Davids het sy hulpafrigter, Barend Pieterse, aan die Canon Eagles in Japan afgestaan waar Pieterse saam met Allister Coetzee afrig en het dus geen voorspelerafrigter by die Kings nie.

Hy het tot tien dae gelede weens ʼn geldtekort net 17 spelers op die oefenveld gehad. Hy het sy span nog glad nie vanjaar (behalwe tydens oefeninge) in wedstrydsituasies gesien speel of ʼn opwarmwedstryd gehad nie. En daar is boonop bitter min diepte in sy groep van net 27 fikse spelers.

Dis van die negatiewe dinge. Die positiewe is die voortgesette werkywer van Davids en ʼn paar kernspelers wat vanjaar heelwat meer ervaring saam met hulle in die kompetisie inneem.

Daar is ook die rekord van Zebre wat in al ses seisoene in die Pro14-reeks sy eerste wedstryd verloor het.

Kan die Kings dít uitbuit? En kan die Kings teen Zebre wen? ʼn Mens weet nie, want nuus uit Italië oor Zebre is skaars en die Kings het nie eers ʼn opwarmwedstryd gespeel nie.

Maar wie weet, dalk is die nuwe seisoen veel beter.

Spanne ̶

Zebre
15 Matteo Minozzi, 14 Mattia Bellini, 13 Giulio Bisegni, 12 Tommaso Castello (kaptein), 11 Giovanbattista Venditti, 10 Carlo Canna, 9 Marcello Violi, 8 Renato Giammarioli, 7 Johan Meyer, 6 David Sisi, 5 George Biagi, 4 Leonard Krumov, 3 Dario Chistolini, 2 Oliviero Fabiani, 1 Andrea Lovotti. Bank: 16 Kassim Ceciliani, 17 Daniele Rimpelli, 18 Giosué Zilocchi, 19 Apisai Tauyavuca, 20 Jimmy Tuivaiti, 21 Guglielmo Palazzani, 22 Francois Brummer, 23 Edoardo Padovani.

Southern Kings
15 Michael Botha, 14 Michael Makase, 13 Harlon Klaasen, 12 Berton Klaasen, 11 Yaw Penxe, 10 Masixole Banda, 9 Rudi van Rooyen, 8 Ruaan Lerm, 7 Tienie Burger, 6 Henry Brown, 5 Bobby de Wee, 4 Schalk Oelofse, 3 Luvuyo Pupuma, 2 Michael Willemse (kaptein), 1 Justin Forwood. Bank: 16 Alandre van Rooyen, 17 Schalk Ferreira, 18 Luphumlo Mguca, 19 Jacobus Astle, 20 Andisa Ntsila, 21 Godlen Masimla, 22 Martin du Toit, 23 Ulrich Beyers.

Afskop: 20:35 (SA tyd)
Skeidsregter: Mike Adamson (Skotland)
Assistentskeidsregters: Keith Allen (Skotland), Manuel Bottini (Italië)
Televisie-skeidsregters: Stefano Penne (Italië)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.