Nuwe kinkel in AB se toiletpetalje op pad na SA

Aaron Smith (Foto: YouTube)

Daar is ʼn nuwe kinkel in die kabel met die petalje toe die All Black-skrumskakel Aaron Smith verlede jaar op pad na Suid-Afrika saam met ʼn vrou in ʼn Nieu-Seelandse lughawetoilet betrap, en uit Suid-Afrika deur die spanbestuur huis toe gestuur is.

Daar word uit die land van die Kiwi’s berig dat die rugbybase die ondersoek na die gebeure heropen het, nadat die vrou bekend gemaak het sy sal regstappe doen om haar reputasie te beskerm.

Sy het Woensdag ʼn reeks teks- en Facebook-boodskappe uitgereik wat daarop dui dat Smith gelieg en inligting oor die omvang van hul verhouding weerhou het om sy bas te red. Dit lyk of die verhouding tussen hulle jare gelede reeds ontstaan het.

Luidens die berigte beteken dit, as die nuwe getuienis waar is, dat Smith die vrou omgehaal het om in ʼn regsdokument te lieg, en dat hy die All Black-afrigter Steve Hansen met ʼn kluitjie in die riet gestuur het.

Smith het die vrou vir die voorval verkwalik, en gevra sy moet sy weergawe aan sy nuwe vriendin en afrigter steun.
Nou het sy blykbaar genoeg daarvan gehad.

Rugby Nieu-Seeland sê dit raak ʼn werknemer-werkgewer-kwessie wat uitklaring noodsaak, en het ʼn onafhanklike regsman aangestel om die saak te herondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.