Nuwe reëls tree met Superrugby in werking

Verskeie wysigings aan die rugbyreëls sal tydens vanjaar se Superrugbyreeks in werking tree nadat dit sedert verlede jaar reeds in die Noordelike Halfrond met vrug toegepas word.

Só het Sanzaar Donderdag bekend gemaak in ʼn verklaring wat in Sydney uitgereik is.

Die wysigings raak die skrum-, doodvat- en losskrumreëls en is luidens die verklaring daarop gemik om die spel eenvoudiger te maak en spelerswelsyn te bevorder.

Die wysigings behels:

Skrums

♦ Die skrumskakel moet die bal reguit ingooi, maar mag met sy een skouer regoor die skrum se middellyn staan. Die voorryspelers mag die bal met hul voete wen nadat dit die grond geraak het, en een van die span wat dit ingegooi het, moet daarna haak.

Die gedagte is om skrumstabiliteit te bevorder, en om regverdige medidinging te bevorder met die voordeel aan die nie-oortredende span (ingooispan).

Sanzaar sê dit beteken albei spanne moet na die bal haak, en die ingooispan kan ʼn vryskop op die lyf loop, sou hy dit nalaat.

♦ In nog ʼn wysiging mag die agsteman die bal agter die slotte se voete optel om die spel te laat vloei (minder skrums wat oor gevorm moet word).

Dit kan veral spanne help wat onder druk agteruit beweeg.

Doodvatte

♦ Die doodvatter moet opstaan voor hy die bal mag speel, en mag dit slegs aan sy eie kant van die doodvat-“hek” doen.
Sanzaar sê dis om die reël vir spelers en skeidsregters eenvoudiger te maak en dit meer in ooreenstemming te bring met die res van die reëls.

Dit behoort skoner bal by die afbreekpunte te lewer, en al die spelers sal die “hek”-vereiste moet nakom.

Losskrums

♦ ʼn Losskrum ontstaan wanneer minstens een speler op sy voete oor die bal op die grond (doodgevatte, doodvatter) is, en die onkantlyn word op hierdie tydstip gevorm. Spelers wat op hul voete is, mag die bal (onmiddellik) met hul hande optel. Sodra ʼn teenstander opdaag, mag die hande nie meer gebruik word nie.

Die grondrede is ʼn vereenvoudiging van die reël.

Na verwagting sal die span wat besit het se spelers vinniger by die afbreekpunt opdaag om die bal te speel solank die verdedigers die onkantlyn moet eerbiedig. Terselfdertyd kan die verdedigers steeds vinnige omkeerbesit wen.

♦ Geen speler mag die bal uit ʼn losskrum skop nie. Dit mag slegs agtertoe gehaak word.

Só, sê Sanzaar, behoort spelerswelsyn bevorder te word, en kom dit in ooreenstemming met die skrumreëls.

Daar word gehoop dat dit bepaalde negatiewe inmenging met die aanvallende span se bal sal uitskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.