Nuwe SA franchise-komitee besluit watter twee spanne in slag bly

ʼn Nuwe Suid-Afrikaanse franchise-rugbykomitee is in die lewe geroep om die kriteria te bepaal waarvolgens op die vier Suid-Afrikaanse spanne besluit sal word wat vanaf 2018 in die Superreeks sal speel.

Dit volg op Sanzaar se besluit, wat Sondag bekend gemaak is, dat daar aanstaande jaar net 15 spanne aan die Superreeks sal deelneem. Twee van die drie spanne wat in die slag bly, sal van Suid-Afrika wees.

Al ses die huidige Suid-Afrikaanse franchise’e sal in die bogenoemde franchise-komitee verteenwoordig wees.

Hulle aanbeveling sal na die uitvoerende komitee van SA Rugby gaan wat, as dit daar aanvaar word, na die hoofraad van SA Rugby vir goedkeuring verwys sal word.

Sanzaar hoop om die spanne vir die 2018-toernooi teen die einde van Junie bekend te maak.

♦  Die besluit om die spanne in te perk is volgens Sanzaar geneem na intensiewe besprekings oor die afgelope nege maande. Daar was ook ʼn strategiese hersieningsproses wat na die kort- en langtermyn-vooruitsigte van Sanzaar se kompetisies gekyk het.

Daarbenewens is samesprekings ook gehou met die belangrikste belanghebbendes, naamlik die franchise’e self, die verskeie TV-uitsenders wat die reeks met hulle borgskappe moontlik maak en ook met ondersteuners.

♦  Die besluit om die spanne na 15 te verminder was eenparig, luidens ʼn verklaring van SA Rugby.

“Vanuit ʼn Suid-Afrikaanse hoëprestasie-oogpunt moes ons erken dat die afwatering van die talent en bronne wat oor die ses franchise’e versprei moes word – in ʼn tydperk waar die swak rand gelei het tot die vertrek van al hoe meer spelers na Japan en Europa – ons vermoë om mededingend te wees ernstig geraak het,” het die hoof- uitvoerende beampte van SA Rugby, Jurie Roux, in ʼn verklaring van SA Rugby gesê.

“As ʼn rugbynasie het ons verskeie sterk franchise’e nodig wat elkeen ʼn kans staan om ernstig om die Supertitel mee te ding. Ons kan dit nie meer sê nie.

“Die vermindering in ons aantal spanne was dus onvermydelik – veral gesien Sanzaar se langtermyn-visie om die toernooi meer aantreklik en kommersieel winsgewend te maak.”

Roux sê dit maak nie sin om ʼn aantal onderpresterende spanne in die Superreeks te hê wat nie finansieel onderhou of op die benodigde vlak van mededinging behou kan word nie

♦  Suid-Afrika se vier spanne en die Jaguares wat by Suid-Afrika se groep  ingedeel word, sal soos die ander groepe se spanne in 16 wedstryde in die reeks speel. (Sien ook die vroeëre berig op die skakel https://maroelamedia.co.za/sportnuus/rugby/sanzaar-beeindig-bespiegeling-oor-super-formaat/)

Al vyf spanne sal twee keer teen elke ander span in sy groep speel – tuis en weg.

Suid-Afrika se vier spanne en die Jaguares sal ook teen vier van Nieu-Seeland se vyf spanne speel en net so teen vier van die vyf spanne in die Australiese groep, waarby die Sunwolves ook ingedeel is.

Die wenners van elke groep en die volgende vyf voorste spanne van al drie groepe, gebaseer op ligapunte, sal in die kwarteindrondes speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stormer ·

Die twee swakste rugby spanne op die oomblik in die kompetiesie is die bulle en die kings, die spanne van die Bulle en die Kings sal moet uit

Dirkie ·

Ek stem dat die Kings en Bulls op die oomblik die swakste vertoon. Kom ons wag tot na die kompetisie. Die Bulle het nog net 1 game tuis gespeel. So dus seker die regverdigste maateenheid. Ek voel die Jaguares verdien hulle plek maar die Sunwolves nie. So hoekom 2 SA spanne en nie die 3 onderste spanne na die kompetisie nie. Soos die Bulle nou speel weet ek nie of Loftus se tuisvoordeel enigsins die antwoord gaan wees nie.

Koos1 ·

As bulls ex- ondersteuner sê ek ook om hulle maar uit te laat. Voor die seisoen om is gaan hulle mense moet betaal om Loftus toe te gaan om hulle wedstryde te kyk!

Dries ·

Bulls moet gaan. Was nog altyd ñ getroue Bulls ondersteuner maar genoeg is genoeg. Betaal spelers vir prestasie nie vir verloorwedstryde nie.

Jan ·

Ben, jy slaan spyker op die kop, bestuur en afrigters pateties, bulle verdien nie om in super reeks te speel nie.

Reg ·

Sal graag wou sien waarheen gaan die gesoute spelers van Vrystaat en die opkomende spelers van die Kings.
Dit is duidelik dst dit die 2 spanne is wat gaan moet waai

Christo Visagie ·

Dit gaan ‘n hartseer dag wees oor watter een van die groot vyf sy plek verloor. Daardie span wat sy plek verloor se spelers sal almal oorsee wil gaan speel wat SA rugby nog verder gaan knou.

Jannie ·

Dit is klaar besluit deur SARFU dat Cheetahs en Kings moet waai. Persoonlik stem ek nie saam nie Bulls en Kings bring nie hulle kant nie. Joel Stransky het gese Cheethas het nie geld nie. Maar die Curriebeker staan hier en saam dit het baie geld gekom. Ons stadion het ook in die Curriebeker reeks sonder die finaal die meeste ondersteuners gehad.

Adam Boshoff ·

Ek mis die bus erens Waarom nie een span van elk van Australie NZ en Suid Afrika nie Nou moet ons 2 spanne afstaan en NZ niks en Aust 1 Wat sou die rede wees dat NZ steeds 5 spanne gaan he

Anoniem ·

Adam, ek sal ook baie graag daardie vraag van jou beantwoord wil he. Wat maak NZ so besonders?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.