Nuwe status vir plaasrugby in die Boland

BOLAND-ama-logoPlaasrugby, daardie eiesoortige faset van Bolandse rugby, word na verwagting vanjaar tot `n nuwe status verhef.

Pale Toe! verstaan dat `n stuk of 60 van dié spanne aan `n nuutgeskepte Eerste Liga van die Bolandse Rugbyunie (BRU) sal deelneem. Dit kan verskeie spanne insluit waarvan die aansoek om deelname nog deur die bond goedgekeur moet word.

Die liga word bygevoeg tot die bestaande reekse om die Grootuitdaagbeker, die Streekuitdaagbeker en die Gemeenskapskild. Van die sterker plaasspanne ding reeds in laasgenoemde mee.

Dit sal nes die res in streekverband beslis word om reisafstande so kort moontlik te hou en op reiskoste te besnoei.

Meer besonderhede oor die reeks word binnekort verwag.

♦ Die oorgrensreeks waarin klubs van die Westelike Provinsie en die Boland in die Gemeenskapsuitdaging meegeding het, is vanjaar van die baan.

Met die Goue Bekerreeks (voorheen die Gemeenskapsbeker) wat vanjaar aan die einde van die seisoen beslis word, moet die Bolandse liga te vroeg afskop en is daar nie ruimte vir nog `n reeks nie.

♦ Die bond wag op hete kole vir die bekendmaking van die Curriebekerbepalings om sy ligabepalings daarby in te pas en laasgenoemde behoort spoedig ná die SA Rugbyunie (Saru) se uitreiking van die nasionale bepalings beskikbaar gestel te word.

♦ Die BRU het `n nuwe hoof van klubrugby in die persoon van Kobus Vergotine aangestel. Hy was voorheen die sekretaris van die Bolandse Skeidsregtersvereniging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.