Nuwe Super18 vir 2016 kom ʼn stap nader

Superrugby logoDaar is steeds ongelukkigheid onder die vyf Australiese franchises oor die voorgestelde Super18-rugbyreeks vir 2016. Die voorgenome reeks is Woensdag onverwags in Australasië bekendgemaak.

Suid-Afrikaanse spanne sal die meerderheid in twee van die vier Superrugby-afdelings wees en ook minder reis as die nuwe struktuur in 2016 in werking tree.

Volgens die voorstel wat binne die volgende twee weke beslag sal kry, sal die ander twee afdelings uit die huidige Australiese en Nieu-Seelandse spanne bestaan. Die struktuur en indeling is nog nie finaal nie.

Elke span sal ingevolge die nuwe struktuur elke seisoen 15 wedstryde speel – een minder as tans – maar die huidige 120 wedstryde sal tot 135 vermeerder.

Die Suid-Afrikaanse spanne sal hoofsaaklik teen mekaar speel, terwyl die Nieu-Seelandse en Australiese spanne hoofsaaklik teen spanne van hul eie lande en ook teen mekaar se spanne sal speel.

Daar sal altesame 18 spanne in die reeks speel. Die Southern Kings, `n span uit Argentinië, en nog ’n span uit waarskynlik die Verre Ooste, Suid-Afrika, Doebai, Europa of die VSA, sal die nuwe toevoegings wees.

Dit beteken Suid-Afrika kan tot sewe spanne in die reeks hê. Daar is egter ’n tender vir die 18de span uitgereik en veral die Australiërs hoop dit word aan die groot Asiese mark toegeken om die uitsaai-inkomste op te stoot.

Die Argentynse franchise en die 18de (tenderspan) sal in September bekend gemaak word.

Die doel van die herstrukturering is juis om globale belangstelling in die reeks te verhoog en die dalende kykerstal en wedstrydbywoning om te keer. Die SA spanne reis ook tans langer en meer as die Australiese en Nieu-Seelandse spanne en die nuwe formaat sal dit verminder.

Drie Suid-Afrikaanse spanne sal teoreties in elk van die twee SA afdelings saam met onderskeidelik die nuwe tenderspan of die Argentynse span (wat in Buenos Aires gebaseer sal wees) speel.

Elke Suid-Afrikaanse span sal dan twee keer, tuis en weg, teen elke span in hul eie groep speel (ses wedstryde in totaal) en een keer teen die onderskeie spanne in die ander SA groep (dit is`n verdere vier wedstryde, dus 10 in totaal in die Suid-Afrikaanse afdelings).

Dan sal elke SA afdeling ook afwisselend (tuis en weg) teen al vyf spanne van óf die Australiese óf die Nieu-Seelandse afdelings speel. As die Stormers byvoorbeeld in 2016 teen al vyf Nieu-Seelandse spanne speel, speel hulle in 2017 teen al die Australiese spanne, waarna dié rotering herhaal.

Die Stormers sal dan byvoorbeeld slegs elke tweede jaar teen, sê, die Crusaders speel.

Aangesien daar vyf spanne in elk van die Australasiese afdelings is, sal twee wedstryde tuis en drie weg, of andersom, elke jaar deur elk van die Suid-Afrikaanse spanne gespeel word.

In hierdie stadium sal dit makliker wees vir ’n Suid-Afrikaanse span om teen al vyf Australiese spanne te speel as teen al die Nieu-Seelandse spanne. Maar op huidige vorm geoordeel sal ’n voorste span soos die Sharks baie meer punte kan opstapel as hulle saam met die Kings, Lions en dalk die Argentynse span in hul primêre groep geloot word en hierdie spanne twee keer in een seisoen kan klop.

Ewenwel, die Suid-Afrikaanse spanne sal korter in Australasië hoef te toer aangesien hulle dan net ’n maksimum van drie wedstryde daar sal speel.

Drie Suid-Afrikaanse spanne en vyf vanuit die ander twee afdelings sal tot die kwarteindronde deurdring. Die vier spanne wat bo-aan hul onderskeie afdelings eindig, dring outomaties deur tot die kwarteindstryde.

Die uitspeelrondes – waar ’n span uitgeknikker word as hy verloor – sal elke jaar oor drie weke plaasvind. Die vier afdelingswenners  – dus twee van Suid-Afrika plus nog drie uit Australasië en die derde beste span in die Suid-Afrikaanse afdeling sal die agt spanne in die kwarteind wees.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rocco van Rensburg ·

Met soveel spanne gaan kwaliteit rugby daaronder ly. Dit is my siening dat daar eerder minder spanne van SA, NZ en AUS in die reeks is bv 3 van elk met ‘n Argentynse span wat inkom asook ‘n VSA span. Dan kan die EP Kings ook inkom om dan die twaalfde span te maak.
In SA het ons klaar twee kompetisies waar plaaslike fanchices teen mekaar speel nl die Vodacom en die Curriebeker. Beslis het ons nie ‘n derde reeks nodig nie. Die Super reeks is juis ‘n platform waar die suidelike halfrond se spanne teen mekaar meeding op internasionale vlak. Vir my was die Super 12 die beste formaat nog en spanne het goed teen mekaar opgeweeg. Dus is ek teen die voorgenoemde voorstel van ‘n Super 18

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.