Dis nou ʼn werklikheid: die Superreeks se formaat gaan verander en die besluit oor watter drie (miskien net twee) spanne uit die nuwe reeks weggelaat sal word, behoort in die komende week bekend te wees.
Hoewel die detail van Sanzaar se besluit na ʼn vergadering in Londen nie bekend is nie, lyk dit of Suid-Afrika twee van sy ses spanne in die reeks sal verloor en Australië een.
Ondanks die rugbyklug van die Sunwolves wat die een loesing na die ander op die lyf loop, sal hulle klaarblyklik hulle plek in die (waarskynlike) 15-tal spanne behou.
Die besluit oor watter spanne gesny sal word, is vir eers uitgestel sodat finale samesprekings binne die individuele nasionale unies en ook met sleutelbelanghebbendes gevoer kan word.
Hoewel daar in Suid-Afrika op feitlik alle vlakke toegegee word dat daar nouliks genoeg gehaltespelers is om met meer as vier spanne mee te ding, blyk dit dat SA Rugby daarvoor te vinde sal wees dat twee van sy spanne gesny word oor die toenemende finansiële probleme en ook die afname van die ondersteuningsbasis in Suid-Afrika.
Die uitvoerende hoof van Sanzaar, Andy Marinos, sê ʼn amptelike verklaring oor die toekoms van die organisasie, Superrugby en die kompetisiestruktuur sal binne die volgende paar dae gemaak word.
Fantasties! Die nuwe formaat weeg nie al die spanne op teen mekaar nie, dus kan die beter spanne summier uitgeskakel word.
Maak dit die top 4 in die Curriebeker. Dit sal die Curriebeker ook baie meer aanskoulik maak en seker maak die Curriebeker in sy volle glorie kan voort bestaan.
Rudi ek stem volkome saam met jou, dit sal egter ‘n jammerte wees as n span soos die Sharks uit gelaat word. (Gegrond op verlede jaar se Curriebeker kompetisie.) Ek sal eerder sien dat een span van SA en een van Australië saam met die Sunwolves uit gelaat word.
Ek kan nie sien hoekom daar 2 SA spanne en net 1 Australië span uitgelaat moet word nie. Die Force en die Rebels het nog nooit enige iets gedoen in die reeks nie en hierdie jaar lyk dit, soos verlede jaar, of geen van die Australiese spanne gaan kompeteer nie. Ek sal die Force en die Rebels uitlaat.