Nuwe Wêreldliga allig dié week bespreek

Die Springbokke speel vanjaar moontlik in hul laaste jaareind-reeks teen Brittanje en die Europese lande.

Dit kan dalk die gevolg wees as Agustin Pichot, ondervoorsitter van Wêreldrugby, se voorstel aanvaar word oor die instel van ʼn nuwe Wêreldliga om rugby as spel wêreldwyd te versterk.

Die besluitnemers van  die wêreldliggaam vergader tans in Sydney en die voorstel sal Woensdag na alle waarskynlikheid bespreek word.

Die finansiële probleme wat van die wêreld se voorste rugbylande, insluitende Nieu-Seeland,  ondervind, kan die deurslag gee oor die instel van ʼn nuwe Wêreldliga om rugby as spel wêreldwyd te versterk.

Wêreldrugby se leiers wil nog nie oor die aangeleentheid praat nie, maar die aanduidings is dat die Junie-toetse en die jaareindtoere van 2020 af iets van die verlede sal wees.

♦ Die gedagte is dat 12 spanne, die voorste ses uit die Noordelike Halfrond en die Suidelike Halfrond se ses bestes, jaarliks in die nuwe Wêreldliga sal speel.

Vier groepe van drie spanne elk sal in die reeks speel wat vyf wedstryddae ‒ drie vir die ligabepalings, en een elk vir die halfeindstryd en die eindstryd ‒ sal behels.

Die toernooi sal elke jaar, waarskynlik in November, in twee lande gespeel word wanneer drie spanne van die Noordelike Halfrond en drie van die suide in elk van die twee lande teen mekaar speel. Elke alternatiewe jaar sal die wedstryde in die ander halfrond gespeel word.

Die gasheerlande sal ook wissel sodat die reeks oor ʼn tydperk in verskeie lande gespeel word.

Daar word verwag dat die kompetisie vir die deelnemende lande ʼn yslike inkomstebron sal wees. Tans kry besoekende spanne geen vergoeding vir die Junie- of jaareindtoetse nie en word dit bloot as vriendskaplike wedstryde vir ranglyspunte beskou.

Die voorgestelde stelsel sal glo groter inkomste vir al die deelnemende lande tot gevolg hê. Die Wêreldliga sal binne die nuwe internasionale kalender val wat in 2020 in werking tree.

Dié kalender bepaal ondermeer dat die Superrugby-reeks, sonder die huidige onderbreking weens die Junie-toetse, teen einde Julie afgehandel kan word en dat die Rugbykampioenskap-reeks tussen die Sanzaar-lande daarná en ook die Sesnasiesreeks soos nou sal voortgaan.

Engeland en Frankryk mag straks bedenkinge oor die nuwe stelsel hê omdat hul klubrugby moeiliker van die huidige tydgleuf verskuif sal kan word.

Geen besonderhede is beskikbaar oor hóé en óf die Wêreldbekerdeur die nuwe liga beïnvloed sal word en hoe die deelnemende spanne aan die nuwe Wêreldliga bepaal sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CdV ·

Ai, ai. Dit gaan net oor geld! Die rugby strukture dra swaar aan al die admin passasiers. Daar is klaar te veel rugby en die einde van die jaar toetse beteken niks behalwe as om as ‘n Europese Kersinkopie geleentheid vir paar spelers en administrateurs te dien. Dit is suidelike halfrond se “af” seisoen en begin van noorde se seisoen. Respekteer dit en skaf die sinnelose toere af. Selfde met Junie toetse wanneer die outjies in hul hoog somer suid moet toer. Super rugby moet nog minder spanne word (super 10 of maks 12 spanne) sodat super toernooi Maart begin en einde Junie eindig. Julie & Augustus is suide se 4 nasies en September word gebruik vir internasionale toere. Een jaar inkomend (vanaf noorde en speel in suide) en volgende jaar Sept. gaan speel suide in noorde. Dit kan gesplit word bv die jaar speel NZ en Bokke tuis en Aus & Argentinië in noorde. Volgende jaar omgekeer dan speel NZ en Bokke in noorde.

Wesley ·

Hierdie moet net beoog word wanneer n internasionale seisoen in plek is, hierdie sinnelose rondgeskuif met die “internasionale vensters” vir spelers en toere in die middel van n uitgerekte toernooi en diep in Desember kan nie goed wees vir die sport nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.