Nuweland kry weer ‘n Aussie-toets

Nuweland stadion in Kaapstad. Foto:mlh.co.za

Nuweland stadion in Kaapstad.
Foto:mlh.co.za

Vir die mense wat vrees dat Nuweland as rugbyveld se dae getel is, is daar minstens tydelike goeie nuus: Aanstaande jaar se Rugbykampioenskaptoets teen Australië is vir 27 September op die historiese veld geskeduleer.

Daar heers steeds groot druk op die WP Rugbyunie om sy hoofkwartier na die Kaapstad-stadion in Groenpunt te verskuif in ‘n poging om dié wit olifant sinvoller aan te wend. Die stadion kos die provinsiale regering R54 miljoen per maand en lewer weinig inkomste.

Vir die Bokke skop aanstaande jaar se kompetisie op 16 Augustus op Loftus Versfeld in Pretoria teen Argentinië af. Die Bokke reis daarna na Suid-Amerika vir die omkeerwedstryd.

Die kompetisie loop op 4 Oktober op Ellispark ten einde met die toets teen die All Blacks wat straks weer – net soos vanjaar die geval was – die Kampioenskapwenner kan beslis.

McLean-park in Napier sal Nieu-Seeland se 27ste stadion word en die agtste wat ‘n wedstryd in die Drienasies/Rugbykampioenskap aanbied. Die stadion huisves 22,000. Die All Blacks het laas in 1996 (teen Samoa, 51-10) hier gespeel.

Die Springbokke se wedstrydprogram is:

16 Augustus: Argentinië, Loftus Versfeld

23 Augustus: Argentinië in Argentinië (veld moet nog bepaal word)

30 Augustus: Australië in Perth.

13 September: Nieu-Seeland, Wellington

27 September: Australië, Nuweland

4 Oktober: Nieu-Seeland, Ellispark

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.