Nuweland: Rassie sal kies met diepte in gedagte

Die drie ysters RG Snyman, Duane Vermeulen en Beast Mtawarira sal na verwagting almal in die beginspan wees. (Foto GB Jordaan)

Dis nie ideaal nie, want ʼn toets is ʼn toets. Maar sedert die eerste Wêreldbeker-toernooi 31 jaar gelede, het die agendas van afrigters, onder meer wat beter spankies betref, heeltemal verander.

Die beste word nie meer vir elke toets gekies nie. Rugby (die voorste klubs en franchise’e) speel op ʼn veel hoër vlak. Die net moet wyd genoeg gegooi word dat nie net die beste spelers nie, maar ook hul plaasvervangers vir die Wêreldbeker-toernooi en ook ander toetse beskikbaar is.

Daar moet boonop teen te veel rugby gewaak word en die moderne tegnologie maak dit moontlik om te identifiseer wanneer ʼn ruskans vir ʼn speler gewens en wanneer noodsaaklik is.

Dit is hierdie soort dinge waarmee Rassie Erasmus, en ook die afrigters van die ander vyf toptoetsspanne  wat die naweek hier en in Australasië speel, worstel voor Donderdag se spanaankondiging vir Saterdag se derde toets op Nuweland.

Ál die spanne gaan vir Saterdag verander, en nie net oor beserings nie, met die minste nuwe gesigte moontlik by Ierland.

♦  Kom ons bepaal ons egter by Erasmus. Hy moet nóú die manne opweeg wat vorentoe kan instaan as die eersteliniespelers beseer sou word. Hy soek na (waarskynlik) ses stutte, drie hakers, drie skrumskakels en drie losskakels vir die Wêreldbeker.

Wie sal vir Faf de Klerk vervang as hy beseer word, nou of voor/tydens die Rugbykampioenskap wat op 18 Augustus begin? En wat as dit ʼn langtermynbesering is waarvan De Klerk nie betyds vir die Wêreldbeker-toernooi sal herstel nie?

Wat van Duane Vermeulen, Handré Pollard, Willie le Roux? Wie is die beste van die vier hakers wat nou in die Bokgroep is en wat saam met Malcolm Marx moet Wêreldbeker toe?

Waar moet Pieter-Steph du Toit ingespan word as Eben Etzebeth en Lood de Jager van hul beserings terugkom met RG Snyman wat kookwater is en Franco Mostert wat net eenvoudig met sy harde werk aangaan?

Wat is die beste lostriokombinasie? Duane Vermeulen sal reeds nie voor einde Junie weet of hy in die Rugbykampioenskap mag speel nie.

Wie moet Erasmus nou as sy senters identifiseer vir die Rugbykampioenskap met die Wêreldbeker as einddoel?

Hierdie is maar enkele voorbeelde van Erasmus se uitdagings.

♦  Noudat Engeland in die reeks geklop is, sal hy, soos Eddie Jones, met sy identifisering kan begin, heel waarskynlik op ʼn nat Nuweland en miskien nog in  die reën, maar met span wat sterk genoeg is om steeds te kan wen.

Erasmus het Maandag aangedui dat hy ʼn aantal veranderinge vir die Nuwelandstoets sal aanbring, maar dat dit nie meer as so vyf sal wees nie. Hy wil immers nie alles wat tot dusver bereik is wegsmyt nie, hoewel ʼn neerlaag nie die einde sal wees as hy van sy oplossings begin vind nie.

Warrick Gelant sal speel, dit is feitlik seker. André Esterhuizen het teen Wallis sy lynbreekvermoë gewys, hoewel sy vaardighede toe nie na wense was nie. Jesse Kriel sal stellig sy sentermaat wees, behalwe as Erasmus wil sien hoe Esterhuizen saam met sy Sharks-sentermaat Lukhanyo Am op toetsvlak vertoon.

Pollard het die losskakelposisie waarskynlik reeds sy eie gemaak, maar daar sal gesien moet word wie hom kan bystaan. Dalk begin Elton Jantjies op Nuweland en kry Robert du Preez later van die bank af kans.

Papier sal seker ook op skrumskakel speelkans kry. Ivan van Zyl het ook meer tyd op die veld nodig, maar De Klerk sal stellig in die beginspan behou word.

Voorlangs kan Franco Mostert, wat vanjaar in elke wedstryd van die Superreeks deurentyd op die veld was, dalk ʼn ruskans kry met Du Toit wat slot toe skuif en Jean-Luc du Preez wat moet kom bewys hy kan in kontaksituasies hanteer en nie besit verloor nie.

Chilboy Ralepelle kan dalk ook opdrafkans kry.

Dit sal, wat Erasmus ook mag besluit, ʼn interessante span wees wat op ʼn nat veld en waarskynlik ook in die reën sal speel en steeds behoort te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

rollie ·

Hy kan kies wie hy wil maar hy sal aan sy resultate gemeet word soos alle afrigters voor hom. As hy Saterdag verloor, is dit 2 uit 4 en dit is swak.

Spelling ·

Wim spankies is definitief nie n erkende woord in afrikaans nie. jy bedoel seker span kies

Tania Heyns ·

Dagsê Spelling

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.