Nuweland se Stormers-son sak met sege oor Cheetahs

Foto: Twitter.

Die Springbok Frans Malherbe is gisteraand welverdiend as die speler van die wedstryd teen die Cheetahs aangewys. Saam met Steven Kitshoff het hulle die Vrystaters se skrum verrinneweer om die grondslag vir ’n goeie sege van 30 – 13 te lê.

In sy kort toesprakie het hy eers hulde aan die ikoniese Nuweland gebring – dit was immers die Kapenaars se laaste amptelike wedstryd (as die Stormers) op hierdie ikoniese rugbyveld.

Gisteraand se goeie vertoning beteken dat die span nou die tweede plek op die Superrugby Unlocked-punteleer ingeneem het; glad nie ’n sleg prestasie as jy in ag neem dat die Bulls hulle ’n paar weke gelede vuisvoos op Loftus gehardloop het nie.

Boonop het Damian Willemse ongetwyfeld ook sy skopskoene aangehad.

Die jong losskakel – wat deur die loop van die kort seisoen nie te veel vertroue met sy stelskoppe ingeboesem het nie – het gisteraand met ses stelskoppe geslaag, terwyl hy ook ’n monster-skepskop van 45 m tussendeur die pale gejaag het.

Sy puik aangee, sommer so agter die rug, in die doodsnikke van die wedstryd het Warrick Gelant weggestuur om die wedstryd finaal buite die Cheetahs se bereik te plaas.

Waar die Stormers vandag heel tevrede met hul vertoning kan voel, sal die Vrystaters hulself kan skop oor van die ongedwonge foute wat hulle gemaak het.

Ja, die Kapenaars se verdediging was rotsvas, maar talle belowende Cheetahs-aanvalle is deur hul eie toedrag in die kiem gesmoor.

Maar tussendeur al die introspeksie en die “terug na die swartbord”-sêgoed, verdien Rosko Specman se briljante drie beslis ’n lofsang of twee.

Die Blitsbokster het min kanse gekry, maar hy het uiteindelik die driedrukreg in eie hande geneem om met ’n briljante individuele poging vorendag te kom: Hy het eers ’n bietjie sokker met die rugbybal gespeel en toe soos ’n wafferse akrobaat oor die doellyn geduik.

Hy is weliswaar nie ’n Stormer nie, maar Nuweland verdien so iets.

  • Puntemakers:

Stormers: Drieë: Herschel Jantjies, Juarno Augustus en Warrick Gelant. Doelskoppe: Damian Willemse (3). Strafskoppe: Williams (3).

Cheetahs: Drie: Rosko Specman. Doelskop: Tian Schoeman. Strafskoppe: Schoeman (2).

  • Superrugby Unlocked-punteleer:
  1. Bulls 19 punte
  2. Stormers 17 punte
  3. Sharks 17 punte
  4. Cheetahs 12 punte
  5. Lions 10 punte
  6. Pumas 5 punte
  7. Griekwas 3 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.