Nuwelandtoets: waak tog teen vinnige Engelse wegspring

Suid-Afrika sal Saterdag op Nuweland slegs vir die derde keer in ʼn toets teen Engeland te staan kom. In albei die vorige toetse het die Springbokke met 18 punte gewen.

Maar dit was toe, in 1994 en 1998, en hierdie Saterdag is nou ‒ en dit is nie ʼn gewone toets nie.

Aan die een kant veg Engeland om eer, en hul afrigter, Eddie Jones, om sy pos  te behou en die span tot en met aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi af te rig.

Teenoor hulle is daar die Bokke wat, weens die droogmaak met die raakvat van die beste spelers die afgelope twee jaar, nou op kort kennisgewing moet oordeel wie geskik is om op die heel boonste vlak te speel, met die Wêreldbeker-toernooi oor sowat 14 maande die werklike doelwit.

Die veld sal hoogs waarskynlik nat wees, ongeag die goeie dreinering. Dit sal ook voor en selfs tydens die wedstryd reën. Dit sal die spelpatroon bepaal, want die Springbokke sal nie gek genoeg wees om met ʼn nat bal en in ʼn redelike sterk wind veel tierlantyntjies uit te haal nie.

Die Engelse sal miskien waag, want hulle sal maar weer op hul agterlyn aangewese wees.

Tot dusver het ons heerlike rugby in die reeks gesien. Die Springbokke het talle verbaas met hul bereidwilligheid om die bal te dra. Hulle het die Engelse geskok met die stewige Springbokpak en die gebruik van geleenthede ver van die afbreekpunte af.

Suid-Afrika het in die eerste twee toetse op senter gestotter en dit is deur twee sterk hardlopers (wat ook kan keer) vir die Nuwelandtoets reggemaak. Rassie Erasmus-hulle moet ʼn luitenant vir Handré Pollard identifiseer en Elton Jantjies sal kans kry om sy make te maak in wat vir hom ongewone nat weer mag wees; en Warrick Gelant, wat vir Willie le Roux op heelagter vervang en van wie baie verwag word, moet ook in die onnatuurlike weersomstandighede met wind en reën oortuig.

Dus is daar vier “nuwe” spelers in die agterlyn.

Voorlangs behoort die Bokke weer die kitaar te slaan, veral met die Engelse probleme met siekte, beserings en Mako Vunipola wat terug is Engeland toe op “vaderskapverlof”. Duane Vermeulen sal op die nat veld gedy, die Engelse skrum sal vir eers hou en dan hik en in die lynstane sal hulle weer onder druk wees.

Dié keer moet Engeland egter nie weer in die eerste paar minute ʼn voorsprong kry nie. Daar is nie ʼn hoogte bo seespieël wat die Bokke sal help nie, en ʼn nat veld is dikwels ʼn gelykmaker.

Inhaal sal dus nie maklik wees nie.

Dit behoort ʼn goeie toets te wees, miskien nie met volop hardlooprugby nie, maar taai soos dit in ʼn toets hoort.

Spanne –

Suid-Afrika
15 Warrick Gelant, 14 Sibusiso Nkosi, 13 Jesse Kriel, 12 André Esterhuizen, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Elton Jantjies, 9 Faf de Klerk, 8 Duane Vermeulen, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi (kaptein), 5 Franco Mostert, 4 RG Snyman, 3 Frans Malherbe, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Tendai Mtawarira. Bank: 16 Schalk Brits, 17 Steven Kitshoff, 18 Thomas du Toit, 19 Jean-Luc du Preez, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Embrose Papier, 22 Handré Pollard, 23 Willie le Roux
Engeland
15 Elliot Daly, 14 Jonny May, 13 Henry Slade, 12 Owen Farrell (kaptein), 11 Mike Brown, 10 Danny Cipriani, 9 Ben Youngs, 8 Nathan Hughes, 7 Tom Curry, 6 Chris Robshaw, 5 Maro Itoje, 4 Joe Launchbury, 3 Kyle Sinckler, 2 Jamie George, 1 Joe Marler. Bank: 16 Luke Cowan-Dickie, 17 Alec Hepburn, 18 Harry Williams, 19 Jonny Hill, 20 Mark Wilson, 21 Sam Simmonds, 22 Ben Spencer, 23 Denny Solomona.

Afskop: 17.05
Skeidsregter: Glen Jackson (Nieu-Seeland).
Assistentskeidsregters: Romain Poite (Frankryk), Ben O’Keeffe (Nieu-Seeland).
TV-skeidsregter: Simon McDowell (Ierland).
Verwagte weer: Moontlike reën; koud (sowat 15 grade), en ʼn redelike sterk noordwestewind.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

rollie ·

Die Bokke se voorspelers sal hierdie een moet deurtrek. Die agterlyn is swakker as verlede week s’n.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.