Nuweling maak stem dik, verslaan GB-halfeinder

Die trui waarmee QBR Swart aan die Carltonliga A sal deelneem.

Die nuwe Pretoriase klub Quins-Bobbies-rugby (QBR) het Saterdag sy stem dik gemaak met ʼn goeie oorwinning oor een van die spanne in verlede jaar se Goue Beker-halfeindronde.

QBR Swart het Brakpan, die Valke-kampioen, in ʼn vriendskaplike wedstryd op Harlequins se terrein in Groenkloof oortuigend met 40-18 pak gegee.

Die nuwe klub het deur die samesmelting van Pretoria Harlequins en Pretoria Polisie (laasgenoemde het die GB-kwarteindronde gehaal) tot stand gekom, en sy vertonings tot dusver laat geen twyfel nie dat hy vanjaar ʼn krag in die Blou Bulle se Carltonliga sal wees.

Ben Eybers, QBR se voorsitter, berig dat Bees Roux, ʼn gewese Superrugbyspeler van die Cheetahs en die Bulls, sy buiging vir QBR gemaak het.

“Brakpan het hom met ʼn baie goeie afstamp voor die bors in klubrugby welkom geheet, maar dit het hom tot ʼn baie stewige vertoning aangespoor.

“QBR het die telbord aan die rol gehou en op die ou end met 40-18 geseëvier.

“ʼn Mens kan duidelik sien dat daar nog aan Brakpan se fiksheid gewerk sal word, en dat hy weer vanjaar ʼn gedugte span in die Goue Bekerreeks sal wees,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Eybers sê die klub se ander eerste span, die onoorwonne QBR Rooi, het weer getoon van watter stoffasie hy gemaak is en met 56-7 teen Brakpan II gewen.

Digby 600 kg

“Die vaste vyf het in ʼn stadium digby 600 kg geweeg, en geen klubspan kan daarby kers vashou nie.”

QBR III het teen Baviaanspoort I gespeel, wat vanjaar in die B-afdeling van die Carltonreeks sal meeding, en met 28-14 gewen.

Eybers sê dit was goed om ʼn klomp gewese QBR-spelers by Baviaans te sien, “en hulle gaan nog vanjaar hul merk maak”.

QBR IV (die Madalas) het Baviaanspoort II met 32-12 geklop.

QBR Groen (o.20) het ook sy voorbereiding vir die Blou Bulle-liga met ʼn oortuigende oorwinning van 53-3 teen Brakpan afgesluit.

Die klub se volgende wedstryde is op 22 April teen Tukkies, met die afskop van die Carltonreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Het die klub al iets gewen vanjaar ? Wen eers en praat dan.

Andreas ·

Die sg QBR is 3 spanne in een( Quins, Polisie en Eagles. Hulle behoort alle spanne 100 – 0 te wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.