Nuweling uit KZN laat Portugese RWB-hoop opvlam

José Rodrigues – 15 punte. (Foto: Facebook)

ʼn Nuweling uit KwaZulu-Natal het Saterdag gehelp om Portugal se droom om aan die volgende toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) deel te neem aan die lewe te hou.

José Rodrigues, wat sy buiging as losskakel vir die Wolwe gemaak het, het 15 van sy span se punte (ses doelskoppe en ʼn strafdoel) aangeteken in sy sege van 45-12 in Lissabon oor die Tsjeggiese Republiek in die Europese RWB-uitdun (rustyd 24-5).

Rodrigues het verlede jaar vir die Sharks-vyftiental in die opstelronde van die Curriebekerreeks gespeel.

Craig Kolarik, die Tsjeggiese heelagter, wat twee jaar gelede vir die Johannesburgse klub Wanderers in die reeks om die Gemeenskapsbeker uitgedraf het, het een van sy span se twee drieë gedruk.

Die Tsjegge word deur Phil Pretorius, ʼn gewese Bulls-afrigter, gebrei.

ʼn Ander Suid-Afrikaanse afrigter, Gareth Gilbert, se Nederlandse span is boaan die punteleer in die reeks om die Rugby Europatrofee nadat hy Switserland in Yverdon met 30-27 geklop het (rustyd 24-8).

Die Heeren 15 is ná twee kragmetings naas Portugal, wat nog net een wedstryd gespeel het, die enigste onoorwonne span in die reeks.

Eric Mellville, ʼn gewese speler van Westelike Provinsie B wat toetsrugby vir Frankryk gespeel het, het groot sukses as die Switsers se hulpafrigter behaal tot hy Junie vanjaar op 55 aan ʼn hartaanval oorlede is.

Pole het Moldawië in dieselfde reeks met 13-0 in Gdansk geklop (rustyd 10-0).

Blikkies Groenewald, ʼn visepresident van die Blou Bulle-rugbyunie, het die Pole die afgelope jaar of wat gebrei, onderwyl hy die grondslag vir ʼn afrigtingstruktuur in dié land gelê en die Pool Stanislav Wieciorek voorberei het om by hom oor te neem.

In Afdeling 2 Noord van die Europese reeks het Luxemburg Estland in Luxemburg met 64-0 verniel (rustyd 38-0).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.