Offermesse eis Jaguares in amperse Viernasies

Die Peruaanse offermesse het Guatamala se Jaguares keelaf gesny in die Suid-Amerikaanse Viernasies B-kampioenskap, wat op die ou end met drie spanne moes sien kom klaar.

Los Tumis, só genoem na die seremoniële offermes op Peru se embleem, het korte mette met Guatemala gemaak, en die kragmeting in La Antigua, Guatemala, gemaklik met 34-0 gewen.

Die gasheerland se span staan in die volksmond as die Jaguares bekend, en moet nie met die Argentynse Superrugby-franchise met dieselfde naam verwar word nie.

Die nuwe Viernasies-reeks vervang die vorige Suid-Amerikaanse Senior B-kampioenskap, maar Venezuela het kort voor die toernooi daaraan onttrek.

Peru het vroeër met 36-14 teen Costa Rica gewen, en Guatemala het die span met 18-12 getroef.

Die nuwe kampioen het die ou reeks in 2010 gewen, sy eerste reeksoorwinning op internasionale vlak.

Colombia, wat die tweedevlak-reeks sedert 2014 oorheers het, is vanjaar tot die nuwe Suid-Amerikaanse Sesnasies-reeks bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.