Okey was die Bokke se skerpskutter

Ter illustrasie. Argieffoto.

Dis nie aldag dat ʼn vaskopstut pale toe skop nie en as hy boonop 32 van die Springbokspan se 47 punte in ʼn toetsreeks teen die All Blacks aanteken om ʼn nuwe wêreldbeste op te stel, moet ʼn mens regop sit.

Dink maar aan ander Springbok-vaskopstutte, soos Flippie van der Merwe, Hempies du Toit en Tommie Laubscher.

Wat van ʼn loskopstut soos Mof Myburgh?

Sakkie Sauermann, wat vyf keer vir die Bokke tussen 1971 en 1974 die vaskopstut was, het wel in 1972 teen die Engelse aangelê pale toe, maar dit was mis.

Hy en Geffin was beslis die uitsondering op die reël.

Aaron (Okey) Geffin is in 1921 gebore. Hy was die seun van ʼn Joodse immigrant van Rusland en het tussen 1949 en 1951-’52 in sewe toetse vir die Springbokke gespeel.

Hy was ʼn uiters begaafde sportman, het gholf van ’n voorgee van drie gespeel en het die Suid-Afrikaanse Joodse rolbalspan in 1969 tot ʼn goue medalje op die  Makkabiese Spele in Israel gelei.

Hy het 57 keer vir Transvaal gespeel en 301 punte aangeteken. Hy was in 1950 in die wenspan toe hy 12 van Transvaal se 22 punte in die eindstryd teen die Westelike Provinsie aangeteken het.

Maar tot en met sy dood het niemand geweet waar hy aan die naam Okey gekom het nie en is hy met dié geheim graf toe.

Geffin, wat as ʼn sersant in die Tweede Wêreldoorlog gedien het, is in Tobruk gevange geneem en na krygsgevangene-kampe in Italië en Pole gestuur.

Dis daar waar hy en die oud-Springbok-flank Bill Payn en die oud-Bok-senter Geoff Gray se paaie gekruis het.

Payn, wat “toetswedstryde” vir die soldate/gevangenes teen die “All Blacks” tydens die oorlog gereël het, het Geffin al die fynere kunsies van skrumwerk geleer terwyl Gray, wat in 1931-’33 Springbok was, aan sy skopwerk (kaalvoet) geskaaf het.

Volgens dr. Danie Craven, die eertydse rugbybaas en oud-Bok-kaptein, sou Geffin nie in 1949 teen die All Blacks pale toe geskop het nie.

Die skopwerk was aan die heelagter Jack van der Schyff toevertrou, maar toe hy skeef korrel, het die kaptein Felix du Plessis (die pa van Morné) die bal aan Geffin gegee.

Craven het altyd vertel hoe Geffin sy visier met net drie skoppe voor ʼn wedstryd ingestel het.

Maar toe hy ná die toetsreeks teen die All Blacks met ʼn groot reputasie in 1951 Brittanje opgedaag het, het hulle ʼn rolprent oor “Okey, the Boot” geskiet.

Hy is toe gevra om tot 50 keer op ʼn slag pale toe te mik en dit het sy skopwerk beduiwel.

In sy laaste toets in 1952 teen Wallis het Hansie Brewis die skopwerk oorgeneem en Geffin het nooit weer vir die Bokke gespeel nie, met Jaap Bekker was sy plek oorgeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.