Oos-Londen Polisie (Grens) het vir die grootste verrassing gesorg in die eerste reeks uitspeelwedstryde om die laaste twee plekke in die oop klubs se internasionale Goue Bekerrreeks te vul.
Hy het die Oostelike Provinsie se Grootuidaagkampioen, Gardens, Saterdag in `n wegwedstryd op Uitenhage 24-17 geklop.
Vroeër vanjaar in die Oos-Kaapse Super12-liga het die OP-klubs hul eweknieë van Grens heeltemal oorskadu en Polisie, wat die verste gevorder het, is in die halfeindstryd uitgeskakel. Gardens het ook dié liga gewen.
Nog `n groot verrassing was Potgietersrus (Limpopo) se amperse oorwinning oor Vaal Reefs (Luiperds) op Klerksdorp.
Die Noordwesters het op die ou end 18-17 gewen, maar dit was so hittete of Limpopo het `n historiese tweede klub in die reeks gehad.
College Rovers (KwaZulu-Nata) het Raiders (Goue Leeus) 32-16 in Durban geklop; en Centurion (Blou Bulle) het Wesbank van Malmesbury (Boland) 24-15 op Centurion geklop.
Saterdag speel Vaal Reefs tuis teen Oos-Londen Polisie, en Centurion tuis teen College Rovers.
Die wenners sal aan vanjaar se reeks om die Goue Beker deelneem.