Olënpark en die Leeus se wonderdrie

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Wanneer oor die beste drie van alle tye gepraat word, word die horlosie altyd teruggedraai na 1973, toe die Walliese skrumskakel Gareth Edwards die wonderdrie van die vorige eeu teen die All Blacks gedruk het.

Maar dis só jammer dat die drie van die Engelse en Britse Leeu-vleuel Mike Slemen in 1980 op Olënpark in Potchefstroom teen die Suid-Afrikaanse Uitnodigingspan so min erkenning kry.

Slemen, wat Dinsdag in die ouderdom van 69 jaar oorlede is, het ʼn beweging afgerond wat voorafgegaan is deur 32 aangeë.

Dit was dié kant toe en toe daardie kant toe en dit het die Leeus in staat gestel om die kragmeting met 22 – 19 te wen.

Ironies genoeg was die toerspan onoorwonne in al hul toerwedstryde, maar het hulle die toetsreeks met 1 – 3 verloor.

Hoekom? Want met Billy Beaumont as kaptein en Noel Murphy as afrigter, het hulle besluit om konserwatief teen die Springbokke te speel en hardlooprugby op die rak te plaas.

Dit teen ʼn indrukwekkende pak wat onder meer Louis Moolman, Moaner van Heerden, Theuns Stofberg en Morné du Plessis ingesluit het.

ʼn Besoek aan Potchefstroom het altyd ʼn anderse bekoring gehad.

Die ou hoofpawiljoen met sy donker dak, die oop pawiljoene met rye en rye houtsitplekke. Die ou groot telbord wat deur skoolseuns beman is en die groot horlosie wat die tyd aangedui het.

Die oop persbank was in die middel van die hoofpawiljoen, net so skuins agter waar die legendariese Tromp-gesin ­gesit het – oom Jan, sy vrou en sy jong kannetjies, Henry en Kleinjan.

Jy het byna tussen die toeskouers gesit en hoeveel keer moes jy nie hoor “watter twak gaan jy al weer môre in die koerant skryf nie?” en dan het jy maar saam met dié ondersteuner en sy pêlle gelag.

Olënpark was eintlik maar ʼn kleiner weergawe van die ou Loftus en Lansdowne Road in Dublin.

Dis ook hier waar die heerlikste worsrolletjies en warm koffie verkoop is.

Ek sal nooit vergeet hoe die Engelse joernalis Robert Kitson in 1997 twee worsbroodjies gekoop het nie.

Die jong dametjie het die “oom” in Afrikaans bedien en hy het ewe beleefd met “baie dankie” in Afrikaans geantwoord.

Maar soos baie ander dinge, is Olënpark saam met PAM Brink in Springs, die ou Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth en binnekort Nuweland in Kaapstad net herinneringe… net soos Slemen se wonderdrie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.