Olimpiese Spele: Blitsbokke slaggereed ondanks terugslae

Siviwe Soyizwapi van Suid-Afrika tydens ʼn vorige wedstryd teen Wallis in Las Vegas, Nevada (2 Maart 2018) (Foto: David Becker/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Blitsbokke begin Maandagoggend (04:00 Suid-Afrikaanse tyd) hul aanslag op ʼn goue medalje in Tokio. Die eerste wedstryd is teen Ierland en dan speel kaptein Siviwe Soyizwapi se span 12:00 Suid-Afrikaanse tyd teen Kenia.

Die span het alles behalwe ideale voorbereiding gehad. Die spelers is steeds nie as een groep bymekaar nie. Covid-19 het alles deurmekaar gekrap en van die spelers is in die atletedorp en ander is steeds in klein hotelkamers. Hulle kon ook nie Saterdag oefen nie.

Soyizwapi sê as alles wat tot dusver met die groep gebeur het nie hulle vasberadenheid en broederskap kon breek nie, kan niks dit regkry nie.

Marius Schoeman, SA Rugby se hoëprestasie-bestuurder, sê die span het nie verwag om tot die dag voor hulle aanslag begin sonder hulle spanbestuurder te wees of om hulle afrigter, Neill Powell, in isolasie in ʼn ander stad te los nie.

“Dit is ʼn uitdaging, om die minste te sê, maar die res van die bestuurspan doen alles moontlik om die manne positief te hou. En met erkenning aan die spelers, ondanks alles is daar steeds glimlagte op hulle gesigte.”

Die spelers kon nog nie werklik die Olimpiese atmosfeer ervaar nie. Hulle is in twee groepe verdeel en boonop aan verskillende protokolle onderhewig.

Die spelers vergader op Zoom om met mekaar in verbinding te bly. Volgens Schoeman het elke dag ʼn nuwe uitdaging, maar hulle vat dit soos dit kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.