Olimpiese Spele kan rugbydwelms op spits dryf

pilleRugby se deelname aan die Olimpiese Spele aanstaande jaar kan die sluimerende kwessie van die gebruik van opkikkers in rugby op die spits dryf.

The Guardian skryf dat rugby in die lig van sy nuwe status as Olimpiese sport, en gesien die dreigende skorsing van Rusland uit aanstaande jaar se Olimpiese Spele vanweë dwelmmisbruik, dalk min tyd het om sy huis in dié opsig in orde te kry.

Die Russiese atletiekskandaal het ander berigte in dié opsig in die skadu gestel, maar slegs in die afgelope klompie weke was daar ook berigte oor `n wêreldwye vlaag dwelmverwante skorsings en positiewe toetsing in rugby (Wallis), sokker (Kroasië), atletiek (Kenia en Griekeland), gewigoptel (Boelgarye), tweekamp (Italië), ski (Oostenryk) en roei (Brittanje).

Suid-Afrika kan hoegenaamd nie in die opsig vingers wys nie.

Die SA Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) se 2015-jaarverslag lys 30 Suid-Afrikaanse sportlui wat in die verslagjaar aan dwelmmisbruik in sport skuldig bevind en gestraf is.

Tien hiervan – `n derde – was rugbyspelers, en sewe atlete.

Die skokkendste aspek van dié syfer is dat drie van die skuldige rugbyspelers minderjarig, waarskynlik skoolseuns, was. Die enigste ander minderjarige oortreder was in stoei.

Inmiddels, word berig dat Dick Pound, die uitgetrede grootbaas van die Wêreldagentskap teen Dwelms (WADA), wie se onafhanklike kommissieverslag tot die skuldigbevinding en skorsing van Rusland kragtens die WADA-dwelmbeheermaatreëls gelei het, aangedui het dat sy opvolgverslag selfs `n groter skok sal oplewer.

Dit dui blykbaar op grootskaalse korrupsie binne die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) ten opsigte van die verdoeseling van positiewe opkikkertoetse.

Die vraag wat nou gevra word, is in watter mate iets soortgelyks in ander sportsoorte soos rugby moontlik is.

Hardnekkige beskuldigings, hetsy kwaadwillig of geregverdig, van opkikkermisbruik in SA rugby – selfs, en dalk veral op skolevlak – wil maar nie gaan lê nie. En die spreekwoord lui dat waar `n rokie draai `n vuurtjie brand.

Tradisioneel is spierboumiddels met liggaamsbouers verbind, maar die beroepsera se eise om groter en steker rugbyspelers het `n geil teelaarde vir soortgelyke beskuldigings in dié sport geskep.

Hopelik slaap die rugbybase rustiger hieroor as wat baie kritici hulle gun.

In nóg `n verwikkeling het Thomas Bach, die voorsitter van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), onlangs voorgestel dat `n onafhanklike liggaam beheer oor toetsresultate en die insameling van inligting daaroor uit die hande van WADA en die individuele sportliggame neem.

Hy reken dit sal doeltreffender in die uitroei van onwettige dwelmgebruik wees en dat die internasionale Sportarbitrasiehof (CAS) uitgeknip is om verantwoordelikheid daarvoor te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.