Om stut te speel, is nie vir sissies nie

Jaap Bekker – stut is nie vir sissies nie

Dit gebeur nie aldag dat ʼn stut in die kollig is nie.

Ja, die heel ouer mense kon nie uitgepraat raak oor die Boy en Fanie Louw-broers nie. Fanie was die kragman en het tussen 1933 en 1938 in 12 toetse gespeel. Boy die vaardige voorspeler wat ewe maklik slot,  flank en agtsteman kon speel. Hy kon glo soos ʼn agterspeler hardloop en hanteer en was in sy 18 toetse tussen 1928 en 1938 altyd ʼn uitblinker. Pure goud

Dan was daar Okey Geffin wat die All Blacks in die reeks van 1949 voos geskop het.

Aaron Geffin (sy eerste naam is nooit op sy geboortesertifikaat ingevul nie) was van Joodse afkoms, maar sy pa was ʼn Russiese immigrant. Freddie Turner, ʼn gewese Springbokvleuel,  het Geffin voor die Tweede Wêreldoorlog leer skop en terwyl hy jare lank ʼn krygsgevangene was, het hy sy skopwerk geoefen, geoefen en geoefen.

Hy het in sewe toetse 48 punte aangeteken – ongehoord vir daardie dae en boonop deur ʼn stut.

Toe het Jaap Bekker, Piet Spiere du Toit, Fanie Kuhn, Mof Myburgh, Hempies du Toit en Os du Randt gevolg. Almal Bok-kragreuse, teen wie jy nie wou skrum nie.

Vrydag in Christchurch bereik die Crusaders se loskopstut Wyatt Crockett een van rugby se hoogste pieke wanneer hy in sy 176ste Superwedstryd speel. Hy sal dan die rekord van die gewese All Black-haker Keven Mealamu verbeter wat in 175 Superwedstryde gespeel het.

Crockett, ʼn bouer van beroep, wil aanhou en aanhou en mik daarna om in 2019 se Wêreldbekertoernooi te speel. As die beseringspook wegbly, sal hy baie meer as 200 Superwedstryde agter die blad hê.

Crockett (1.93 m), net soos Mof Myburg (en ook die gewese Engelse en Britse Leeus-stut Fran Cotton) voor hom , word as te lank vir ʼn stut beskou … maar 176 Superwedstryde en 58 toetse later?

Is dit nie net maar suurdruiwe nie?

Dis nogal ironies dat nog ʼn stut en gewese skrynwerker en bouer, Jason Leonard, die wêreldrekord vir die meeste toetse (119) gehou het voordat die Wallaby-skrumskakel George Gregan dit in 2006 verbeter het.

Leonard, een van Engeland se legendes, se loopbaan was in 1992 aan skerwe toe hy ʼn nekbesering opgedoen het. ʼn Been van sy pelvis is gebruik om sy nekwerwel op te bou en hy kon sy loopbaan suksesvol hervat.

Dís die manne wat net wil skrum en skrum; dis wat die manne van die seuns skei; dis die manne wat met wie jy laataand om ʼn vuurtjie wil gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

zahn ·

Een van ons beste stutte wat ons gehad het, was Frans Erasmus. Mense, daai was nou krag! En vinnig? Vra maar vir Naas, hy moes uithaal toe Frans hom jaag, Naas met die bol onder die arm, Frans agterna., terug na die bulle se doellyn. Ek lag nou nog as ek daaraan dink..

Frans C ·

Die foto is van Jaap Bekker wat teen Skinner geskrum het.Skinner was ‘n NZ-bokskampioen en is deur die NZ-keuders ingesluit om die Springbokvoorry wat hul verwoes het op hul plek te sit.

Hy het vir Bekker in seker een van die vuilste toetse ooit so geslaan dat dit gelyk het of
Bekker uit ‘n bokskryt kom.Onder vandag se ‘wette’ sou die vuilgat lewenslank geskors gewees het.Tog het die NZ-pers die optrede goedgepraat onder die verskoning dat die Springbokvoorry op hul plek gesit is.

Thuens ·

Maar Dok Craven het Salty du Randt toe gebruik om Skinner op sy plek te sit in die volgende toets wat gespeel is,en was dit toe ook nie die einde van Skinner se toets loopbaan gewees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.