Om Walker te kies, is uit nood gebore

Andrew Walker saam met die Brumbies se afrigter Stephen Larkham tydens `n oefening. (Foto Brumbies Media)

Andrew Walker saam met die Brumbies se afrigter Stephen Larkham tydens `n oefening. (Foto Brumbies Media)

Hallo oupa, waar’s die ouetehuis?

Moenie verbaas wees as die Brumbies se afrigter, Stephen Larkham, die 43-jarige Andrew Walker by sy span gaan betrek vir vanjaar se Superreeks nie.

Walker, wat reeds in 2008 uit die 15-manspel getree het maar steeds rugbyliga speel, het die afgelope naweek vir die Brumbies in die Brisbane tienetoernooi uitgeblink.

Volgens Larkham was dit aan die begin van die toernooi  bloot ʼn grappie, maar hoe langer die toernooi geduur het, hoe meer het Walker indruk gemaak.

Volgens stuff.co.nz oorweeg Larkham dit nou om Walker te betrek, omdat sy span ʼn ellelange beseringslys het en Walker feitlik enige posisie in die agterlyn kan speel en baie waarde met sy ervaring kan toevoeg.

Dit sal wees, soos Kitch Christie destyds na ʼn ouer speler verwys het om die gate toe te stop, “om ʼn hospitaaljoppie te doen”.

Dit sal ʼn rare verskynsel wees om Walker weer te sien speel, want ons onthou hom nog toe hy in 2000/’01 sewe toetse vir die Wallabies gespeel het. Hy was tussen 2000 en 2003 in die Brumbies-spanne, ook in die ene wat in 2001 die Super12-reeks gewen het.

Is hy fiks en vinnig genoeg, sal hy die stampe en stote kan verduur, sal hy vir 80 minute kan byhou?

♦  Wie was die oudste speler in ʼn toets?

Die 57-slot van Katar Mark Spencer, het ʼn paar jaar gelede teen Oezbekistan opgedraf. Ek wonder hoe hy die volgende oggend van die pyne en skete herstel het, of dalk het hy reeds daarvan vergeet.

Hugo Porta, die legendariese Argentynse losskakel,  was 47 jaar oud toe hy as ʼn plaasvervanger vir ʼn Wêreldspan opgestuur is. Dis was maar bloot vir bemarkingsdoeleindes, want Porta se rugbyskoene was al lankal op die rak.

In 1921 het die 40-jarige Ned Hughes vir die All Blacks teen die Bokke gespeel en Uruguay se gewese kaptein Diego Omachae was 40 toe hy nog gereeld toetsrugby gespeel het.

Victor Matfield (38 jaar en 172 dae) was die oudste Bok-kaptein en speler en Johan Ackermann was 37 jaar en 24 dae oud toe hy in 2007 vir die Bokke teen die Wallabies gespeel het.

Maar 43?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Het Hugo Porta nie wel tot baie naby aan 40 vir die Argentyne gespeel nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.