Ommeswaai na sewesrugby lyk na SA se voorland

Dit begin te lyk of Suid-Afrika vorentoe slegs ʼn krag in sewesrugby kan wees namate die Springbokke se beeld in die vyftienmanspel vervaag.

As die belangstelling in die afgelope Kaapstadse Sewes en die sukses van die Blitsbokke in ag geneem word, is dit nie te vergesog nie.

Namate die geldkrane opdroog en die spelerspoel krimp, is dit soveel makliker om ʼn sterk sewesgroep van 12 spelers te onderhou as ʼn mededingende 15-mangroep van in die 30.

Dit is niks vreemd nie dat sommige lande beter in sewesrugby presteer as wat hul vermoë in 15-manrugby hulle toelaat.

Fidji doen dit al jare lank. Die Suidseeeilanders is die Olimpiese kampioen in die spel; het die Seweswêreldbeker al twee keer gewen; het die Wêreldreeks al drie keer gewen, en is tans derde op die punteleer; terwyl hulle maar tiende op Wêreldrugby (WR) se ranglys is.

Kyk maar na Kenia, wat 11de op die punteleer en 30ste in 15-man rugby is, en Uganda wat 15de en 35ste in die onderskeie opsigte is. Selfs Kanada is tans sewende in die Wêreldsewesreeks, ondanks ʼn 21ste plek op die WR-ranglys.

Lande soos Fidji (derde), Samoa (negende), Spanje (10de), Kenia (11de) en Amerika (12de) vaar tot dusver vanjaar selfs beter as ʼn tradisionele rugbyland soos Skotland (13de) waar sewesrugby in die jare sestig sy deurbraak gemaak het toe Hooglandse klubs soos Melrose en Gala hoogs suksesvolle toernooie aangebied het.

Met die Blitsbokke as die Wêreldseweskampioen en tans tweede op die 2017-2018-punteleer, en die Springbokke ʼn teleurstellende sesde op die WR-ranglys – en geen ooglopende stappe wat deur Saru gedoen word wat daarop dui dat die afglyding binnekort gestuit kan word nie – lyk die sewespad gans en al nie buite die kwessie nie.

Die afgelope groot openbare belangstelling spruit ongetwyfeld nie net uit die Blitsbokke se sukses nie, maar ook uit die skouspelagtige hardloopspel wat sewesrugby bied. Gemeet teen die stugge spelpatroon van die Bokke, kan ʼn mens nie die breë publiek verkwalik as hulle daaraan voorkeur gee nie.

Dalk het die kaartjiepryse ook iets daarmee te doen. Wie wil nou R450 tot R950 vir 80 minute se spel betaal (of R150 vir ʼn staanplek) as ʼn mens ʼn hele dag se wedstryde teen R150 tot R300 kan kry?

Wees egter gewaarsku: Die euforie sal waarskynlik net duur tot die onbeholpe Saru ʼn opvolger vir die afrigter Neil Powell moet aanwys. Sy kontrak strek tot 2020.

Intussen hang daar na aanleiding van die Steinhoff-debakel ʼn vraagteken oor die toekoms van die Blitse se naamborg. Onthullings betreffende onreëlmatige boekhouding en ʼn gevolglike dramatiese val in Steinhoff se aandeelprys kan ʼn uitwerking hê op die borg se vermoë om sy verpligtinge na te kom. Saru se benarde geldsake plaas hom nie juis in ʼn posisie om van sy kant af op morele gronde ʼn oop hand weg te klap nie.

Watter uitwerking só ʼn voortgesette vennootskap op Saru se verkrummelende beeld kan hê, is ʼn ander kwessie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris ·

SARU laat my aan SAA dink. Ek dink hulle (SAR) probeer SAA namaak. Ek dink dit neem omtrent 90plus produktiewe mense (teginici, grondbemanning en vlieëniers) om een vliegtuig in die lug te hou. SARU is baie naby daaraan om een speler op die veld te hou. Doe zo voort. Een van die dae stel hulle die “skare” op die pawiljoene aan die spelers voor.

Koos1 ·

Noem dit wat jy wil, ek geniet dit. Goed om spelers met balle te sien hardloop en nie grond toe duik nie.

Piet de Jager ·

Net ‘n vraag vir iemand wat dalk weet. Is Is Steinhoff nie ook die hoofborg van die Varsity Cup rugby nie? Hoe gaan die spul die spogtoernooi raak?

Koos1 ·

Piet, jy is reg. Ek glo daar sal ‘n nuwe borg by albei kan kom. Borge soek waarde vir hulle geld en ook blootstelling. Die 7’s bied genoeg daarvan en die varsity trek ook groot belangstelling. Om ‘n wen span te borg is maklik, om ‘n verloor span te borg is baie moeilik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.