Omstrede afrigter breek dalk kontrak vir Franse

John Mitchell (Foto: Express)

John Mitchell (Foto: Express)

Dit lyk of die dikwels omstrede Nieu-Seelandse afrigter John Mitchell sy kontrak met Amerika gaan kortknip om `n Franse klub af te rig.

Luidens berigte in die Franse media sal die hoofafrigter van die Amerikaanse nasionale span, wat vroeër die Lions en die Goue Leeus gebrei het, binnekort by die Franse tweedevlakklub Oyonnax inval.

Hy het verlede jaar `n kontrak van vier jaar met Rugby VSA gesluit.

Na wat berig word, sal Amerika `n nuwe afrigter moet vind voor die kwalifiserende ronde vir die Rugbywêreldbeker teen Kanada wat middel vanjaar op `n tuis-en-weg-grondslag uitgespook word.

Die eerste ronde van vanjaar se Amerikas-rugbykampioenskap het pas verlede Saterdag afgeskop, en hoewel die Arende hul neerlaag van verlede jaar teen Uruguay gewreek het, moet dit nog gesien word in watter mate die land se keurbende onder Mitchell se leiding ontwikkel het.

Daar was heelwat kritiek in die Amerikaanse media wat `n gebrek aan vordering bespeur het.

Die Arende speel Saterdag teen Brasilië, teen wie hulle ook verlede jaar op verrassende wyse verloor het.

Oyonnax is verlede jaar uit die Franse Top14-liga na die Pro D2-reeks afgeskuif, maar is tans die voorloper in die tweedevlakliga en `n gunsteling om sy Top14-status te herwin.

Die Springbokstut Dean Greyling, `n gewese Sharks-, Cheetahs- en Kings-slot Steven Sykes, en `n gewese SA o.20- en Kings-skrumskakel James Hall speel tans vir die klub.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.