Omstrede Hartley se hou ‘nie rooi kaart werd’

Dylan Hartley – “hou nie rooi kaart werd”. (Foto: Twitter)

Die omstrede Engelse kaptein Dylan Hartley het daaraan ontkom om vir die soveelste keer in sy loopbaan geskors te word – dié keer ná ʼn hou wat ʼn teenstander bloedneus gelaat het.

Skerp reaksie op die gebeure is van uiteenlopende aard.

Dit wissel van ʼn verklaring deur Northampton, Hartley se klub, dat wedstrydbeamptes Hartley na aanleiding van sy woeste verlede (hy het al 60 weke se skorsing om verskeie redes uitgedien) onregverdig teiken; tot ʼn standpunt in die Britse media dat tugkomitees die wedstrydbeamptes se gesag ondermyn.

Hartley het in ʼn wedstryd in die reeks om die Europese Kampioenebeker teen die Franse klub Clermont Auvergne van sy voete gegaan toe hy ʼn losskrum wou “skoonmaak”, die stut Rabah Slimani met die hand in die gesig getref, en hom bloedneus gelaat.

Ná die kykweer is Hartley met ʼn geel kaart van die veld gestuur, maar die wedstrydkommissaris het hom vir vuilspel uitgewys en hy moes voor die tugkomitee verskyn omdat hy ʼn teenstander “met die hand geslaan het”.

Die onafhanklike tugkomitee, onder voorsitterskap van die Engelsman Jeremy Summers, het bevind dat Hartley “ʼn roekelose daad van vuilspel gepleeg het deur Slimani in die gesig te slaan, dog die komitee is nie oortuig dat dit ʼn rooi kaart regverdig het nie”.

Die uitwysing is tersyde gestel en dit staan Hartley vry om te speel.

Engeland se herfstoetse is teen Argentinië, Australië en Samoa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.