‘Onbekendes’ uit SA vang oog in Engeland

Nick Schonert – “erg onderskat”. (Foto: Worcester Warriors)

Twee betreklik onbekende Suid-Afrikaanse voorryspelers by Worcester Warriors word deesdae taamlik hoog in Engeland aangeslaan.

Die webwerf Ruck.co.uk het Nick Schonert uitgesonder as die mees onderskatte vaskopstut in die Engelse Premierliga; en die haker Kurt Haupt, wat die klub op die kort termyn sou uithelp, het in vyf wedstryde dermate beïndruk dat sy kontrak tot die einde van die seisoen verleng is.

Vir Schonert (25) is alles is egter nie maanskyn en rose nie. Hy is in Desember weer beseer nadat hy in September twee enkelsenings geskeur, en byna twee maande lank nie gespeel het nie. Hy sal na verwag word nog vier tot ses weke vanweë die enkel buite aksie wees.

Dié gewese SA o.20-speler (2011), wat Curriebekerrugby vir Griekwas gespeel het, het onlangs aan die Worcester News gesê hy sal nooit sy geboorteland afsweer nie, maar as hy “op die oomblik” moet kies, sal hy eerder vir Engeland wil speel.

Hy kom op grond van ʼn Engelse ouma vir die Rose se toetsspan in aanmerking.

Schonert was net meer as twee jaar gelede in die nuus toe hy 40 steke in sy wang moes kry nadat die Saracens-slot Maro Itojo, wat tans groot opgang vir Engeland maak, hom in die gesig getrap het.

Haupt (28) het op sý beurt Superrugby vir die Kings en Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel.

Alan Solomons, ʼn gewese hupafrigter van die Springbokspan en tans die rugbydirekteur van Worcester, het sy ingenomendheid met Haupt se vertoning te kenne gegee, en aangedui dat nog baie van hom verwag word.

Nuus oor ander Suid-Afrikaners by Worcester sluit in dat die slot Anton Bresler, wat van Edinburgh af by die klub aangesluit het nog nie vir die Europese reeks geregistreer is nie, en Worcester in die reeks om die Anglo-Engelse Beker sal verteenwoordig.

Bresler het Superrugby vir die Sharks gespeel, en was verlede jaar lid van die Skotse nasionale oefengroep.

Twee van Worcester se Springbokke is ook op die krukkelys. Die senter Wynand Olivier (beseerde dyspier) sal na verwagting nog ses weke op die kantlyn deurbring, en die flank Dewald Potgieter (kniebesering) word ook eers in Februarie terug in die tuig verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.