Onbesonge Kitch gee Mains, en die All Blacks, bloedneus

Kitch Christie. Argieffoto.

Kitch Christie het sy Wêreldbekersukses in 1995 op vier pilare gebou: fiksheid, trots, passie en besit.

Soms het ons, van die spelers ook, geglo dat hy as Springbokafrigter te min aandag aan spesiale vaardighede gegee en fiksheid oorbeklemtoon het.

Maar hy het die Springbokke tot die fiksste span in die WB-toernooi geslyp en toe dit in die eindstryd op Ellispark in bykomende speeltyd teen die All Blacks saakgemaak het, is die vrugte daarvan gepluk.

Christie het ook geweet dat die spelskeppers in die agterlyn, soos André Joubert, Hennie le Roux, Joel Stransky en Joost van der Westhuizen, vir die res sou sorg, dat hulle saam met James Small, Pieter Hendriks/Chester Williams en Japie Mulder die nodige vonk sou verskaf.

Die voorspelers was ʼn eenheid en het saam in ʼn trop gejag – soos ons in die ou dae gesê het: hulle het onder een kombers gespeel.

Christie was ʼn groentjie op die wêreldtoneel, hy het nooit toets- of provinsiale rugby gespeel nie, slegs ʼn paar seisoene flank vir Harlequins in Pretoria. Hy het die Lappiestruie ook ʼn paar jaar lank afgerig en was ʼn ruk lank afrigter in Amerika.

Hy het dadelik sukses by Transvaal in 1993 behaal en toe Ian McIntosh ná die Springboktoer van 1994 deur Nieu-Seeland gepos is, is Christie deur dr. Louis Luyt as Springbokafrigter aangestel om ʼn “hospitaal-joppie” te doen.

Hy was soos ʼn broeis hen om sy spelers, hy het pa en ma gespeel, hy het hulle die werklike waardes van die lewe geleer.

Sjoe, dis ʼn waagstuk, het ons almal gedink.

Aan die ander kant van die muntstuk was daar die All Blacks-afrigter Laurie Mains, wat in 1976 in die All Blacks-toerspan was wat deur Suid-Afrika getoer het.

Mains het jare lange ondervinding as topspeler en afrigter gehad; hy het 115 wedstryde vir Otago gespeel en die span agt jaar lank afgerig.

Hy het 15 keer vir die All Blacks gespeel, wat drie toetse teen die Britse Leeus in 1971 en ʼn laaste toets teen Ierland in 1976 ingesluit het.

Hy het die leisels by Alex Wyllie as afrigter in 1992 geneem. Hy was die All Blacks se 19de afrigter sedert 1949 en het die span tot 23 oorwinnings in 34 toetse gebrei vir ʼn wenpersentasie van 67,6% voordat hy deur John Hart vervang is.

Mains was ʼn baie goeie afrigter van ʼn baie goeie span, een wat die Wêreldbeker moes wen, maar nie kon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.