Onder White is Bulls weer op die wenpad

Jake White. Foto: GB Jordaan.

“Dit sal glad nie maklik wees nie, maar ek sien uit na die uitdaging,” het Jake White in Maart gesê kort nadat hy as die Bulls se nuwe direkteur van rugby aangewys is.

Nou, agt maande en ’n vlak van inperking of twee later, het die Bulls een hand op die Superrugby Unlocked-trofee.

Die Pretorianers het reeds vier van hul vyf wedstryde in die Unlocked-reeks gewen en in die proses 157 punte opgestapel. Indien hulle die Pumas met ’n bonuspunt wen, kan dit statisties onmoontlik vir die ander spanne wees om met die louere weg te stap.

Vergeet egter vir eers van moeilike wiskundige somme en vergelykings, die resep is lyk eintlik grotman-eenvoudig: White brei span, span wen.

“Dit is ’n voorreg om deel van die Bulls-opset te wees en ons wil weer een van die sterkste unies in wêreldrugby word. Ek is nog altyd dieselfde persoon; ek wíl wen,” het hy juis vroeër vanjaar in ’n radio-onderhoud gesê.

Ja, by tye is die gehalte van rugby in die Unlocked-reeks ná maande se afwesigheid weens die Covid-19-pandemie maar minder indrukwekkend, terwyl die Nieu-Seelandse spanne seker kringe om van die verdedigers sou hardloop; maar een ding is seker: Onder White speel die Bulls weer lekker rugby.

“As direkteur van rugby gaan ek nie skroom om my moue op te rol en te werk nie: Ek wil afrig. Oor die afgelope paar seisoene het die Bulls ʼn bietjie die standaarde-bal laat val en ons moet weer op die basiese dinge konsentreer.”

Stedman Gans druk nog ’n drie. Foto: GB Jordaan.

En dit is presies wat die Bulls onder White doen: Hulle het tot dusver die meeste drieë (18) in die reeks gedruk, die bal die verste (1 667 m) gedra en die meeste van hul lynstane (93,5%) gewen.

Lakwerk suig weliswaar effens aan die agterspeen – wat suksesvolle duikslae betref is hulle die vyfde beste in die reeks – maar hulle het net 87 punte in hul vyf wedstryde afgestaan.

Dit was nie altyd mooi nie – soos teen Griekwas, terwyl hulle teen die Cheetahs verloor het – maar soms is wenrugby belangriker as sjampanje-rugby.

Natuurlik sorg spelers soos Marco van Staden, Cornal Hendricks, David Kriel, Stedman Gans en Ivan van Zyl ook dat die span wen. Voeg daarby Duane Vermeulen se kapteinskap, die 36-jarige Morné Steyn se spelpeil en ’n paar slim kopies en jy sit die wen weer terug in wenkultuur.

White trap op tone en nie almal hou van sy metodes nie, maar as daar weer ’n trofee in Loftus Versfeld se vertoonkas staan, sal Pretoria glimlag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adam Adriaan ·

In die land van die blindes is die eenoog koning. Wag maar vir die manne van daar ver Suid dan praat ons weer.

MakersMark ·

Vertel asb dieselfde vir bankrot windjies en die koi vissies van Dbn. Soos oom Boy Louw gesê het “looks at the scoreboard”.

Christo ·

en aankope vanuiot ander bonde word maklik gemaak met n vet beursie………..

SomeOne ·

min mense hou van white, maar hy het altyd daardie verrassings element iewers in sy mou

Anoniem ·

Jake White se “quick fix” resep kan vir ‘n rukkie werk, maar kan net so vinnig weer platval nadat die oorsese spelers teruggekeer het Europa toe. Hy is baie goed met vinnige regruk planne, maar sy rekord bewys dat hy nie lank by een span bly nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.